|

Rioolkrisis: AfriForum maan direkteur om daad by die woord te voeg

AfriForum meen dat dit goed is dat Nelson Mongale, die direkteur van Infrastruktuur by die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit, hom daartoe verbind het om oplossings vir die voortslepende rioolkrisis in Irenepark te vind. Die organisasie hou egter die verwikkelinge fyn dop om te sien of Mongale wel daadwerklike verandering teweeg wil bring en of hy net die inwoners van Klerksdorp probeer paai.

Mongale het op 21 Mei saam met verteenwoordigers van AfriForum besoek afgelê in Cuckoostraat om self te sien hoe erg die rioolprobleem daar is. Dit volg ná AfriForum reeds op 6 Mei ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig het om die ernstige gesondheids- en omgewingsgevare wat die rioolkrisis vir inwoners, ondernemings en opvoedingsinstansies soos Overvaal Privaat Skool inhou.

Tydens die terreinbesoek het Mongale ’n rioolspan ontbied om ondersoek in te stel. Hy het ook onderneem om die nodige herstelwerk te laat doen sodat die rioolwater nie meer in inwoners se huise kan invloei nie. Hierdie situasie is vererger deur onlangse oorstromings in hierdie area.

Mongale het ook onderneem om toe te sien dat die volgende gebeur:

  • Herstel van straatligte om kabeldiefstal en onwettige verbindings wat in die donker plaasvind, die hoof te bied.
  • Herstel van slaggate in verskeie strate;
  • Skoonmaak van sypaadjies en middelmanne om die omgewing weer leefbaar en higiënies te maak.

AfriForum het ook met die munisipaliteit in gesprek getree om rabatte op eiendomsbelasting te beding vir diegene wat erge skade gely het met die onlangse oorstromings. Hierdie versoek spruit vanuit die gemeenskap se volgehoue betalings van hul munisipale rekeninge ten spyte daarvan dat die munisipaliteit versuim om dienste volhoubaar te lewer.  

“Ons waardeer die onmiddellike reaksie van die direkteur en sien uit na volgehoue samewerking om hierdie infrastruktuurkrisis om te keer. Die gemeenskap het lank reeds onder onaanvaarbare omstandighede geleef, en dit is tyd dat regstellende optrede plaasvind,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum monitor die vordering met die herstelwerk noukeurig en sal voortgaan om namens die gemeenskap druk uit te oefen om volhoubare oplossings te verseker.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir Henda Jordaan by 082 783 5272.

Soortgelyke plasings