Riool-nagmerrie: Ekurhuleni-metro moet nou probleem oplos
Die burgerregteorganisasie AfriForum meen dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit die gemeenskap se welstand voorop moet stel. Dít volg ná dele van Benoni en Brakpan steeds vir maande lank gebuk gaan onder rou riool wat deur die strate vloei.
Benewens die gesondheidsrisiko’s wat met die rioolkrisis gepaardgaan, is daar ook al wesenlike skade aan infrastruktuur aangerig. Sommige paaie is byna onbegaanbaar weens slaggate wat begin vorm het as gevolg van die riool wat heeltyd deur die strate vloei.
Areas wat tans erg deur hierdie rioolstorting geraak word is die subweg in Hoofrifweg in Brakpan, en Lancaster-, Dagenham- en Styxweg in Benoni.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand is hierdie paaie oorstroom met rou riool. “Honderde motoriste en voetgangers gebruik daagliks hierdie paaie en as voetgangers nie deur dit loop nie word hulle daarmee gespat wanneer motoriste noodgedwonge daardeur moet ry. Daar is ook koshuise, woonstelblokke en ondernemings wat erg hierdeur geraak word. Dit bly vir ons kommerwekkend dat die metro bloot hul rug op die probleem draai.”
Olckers sê voorts dat die metro se versuim om op te tree inbraak maak op inwoners se grondwetlike regte aangesien elke individu ingevolge artikel 24 van die Grondwet die reg het tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welstand nie.
Daarbenewens is daar verskeie wetgewing wat klem plaas op ’n gesonde omgewing wat nie onder besoedeling moet deurloop nie. Voorts is munisipaliteite ook ingevolge die Wet op Watervoorsiening (108 van 1997) daarvoor verantwoordelik om volhoubare sanitasiedienste te verseker – iets wat nie tans in Brakpan en Benoni die geval is nie.
“AfriForum versoek ’n dringende aksieplan van die metro met ’n duidelike tydlyn oor wanneer en op watter wyse hulle van plan is om hierdie probleem die hoof te bied,” voeg Olckers by.
Die organisasie versoek voorts dokumentasie wat dui op ’n deeglike ondersoek na die rioolprobleem in die onderskeie areas asook dat noodmaatreëls ingestel moet word om die gemeenskap te beskerm en die probleem op te los.
“Die metro moet meer doen om hierdie tipe probleme vinniger aan te roer en ook om meer deursigtig met die gemeenskap te kommunikeer oor hoe lank die probleem gaan voortduur en hoe hulle dit gaan oplos,” sluit Olckers af.
Raak vandag nog betrokke by jou naaste tak om saam ’n verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za.