|

Priority Escapes-baas gearresteer in verband met nóg twee AfriForum-sake

Francois Swart, die vermeende vakansieswendelaar en besturende direkteur van die reisagentskap Priority Escapes, is in hegtenis geneem oomblikke nadat hy vandag die Randburg-landdroshof verlaat het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die klaers in die twee sake waarvoor Swart in hegtenis geneem is. Dit bring die totale aantal sake waarin die eenheid druk op die owerhede geplaas het om teen Swart op te tree op vier te staan.

Die arrestasie kom slegs twee weke nadat die eenheid ’n brief aan die bevelvoerder van die Douglasdale-polisiestasie geskryf het, waarin teleurstelling uitgespreek is oor die versuim om op te tree in twee sake wat in Maart en April verlede jaar geopen is. Die eenheid verteenwoordig Ruan Kruger en Louis André Botha wat, soos ander klaers in sake teen Swart, derduisende rande vir luukse vakansies betaal het, maar nooit die wit strande en sprankelende blou see gesien het wat aan hulle beloof is nie.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig ook Pamela-Anne Dolan en Bugs van Heerden in ’n saak wat in die Modimolle-landdroshof aangehoor word, sowel as Casper Groenewald in ’n saak wat in Randburg aangehoor word. Swart is vandag ná dié verrigtinge in hegtenis geneem. Dit is onduidelik of hy oor die naweek in die tronk aangehou of op borgtog vrygelaat ​​sal word, maar die eenheid sal dit met die owerhede opvolg.

In die onlangse brief aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het advokaat Gerrie Nel beklemtoon dat die saak dringend afgehandel moet word. Volgens Nel het die eenheid met sy kliënte gekonsulteer, wat beëdigde verklarings en ondersteunende inligting oor bewyse aan die eenheid voorgelê het. Die getuienis word geag as prima facie-bewyse dat Swart as die geïdentifiseerde verdagte die eenheid se kliënte krimineel bedrieg het.

Luidens Nel is die klaers se saak eenvoudig, en kom dit daarop neer dat die verdagte die volle betaling van albei klaers ontvang het om vakansiereëlings namens hulle te hanteer. Die wanvoorstelling is verder bevorder toe die verdagte dokumente uitgereik het wat beweer dat die vakansie gereël en ten volle betaal is. Dit is intussen bevestig dat die dokumente wat die klaers ontvang het, vals is. Nel benadruk voorts dat die samelewing eis dat klagtes vinnig afgehandel word en dat die beginsel van “uitgestelde geregtigheid is afgestelde geregtigheid” stewig in die strafregstelsel herstel moet word.

Die eenheid sal voortgaan om met die owerhede in gesprek te tree om te verseker dat geregtigheid geskied.

Die Groenewald-saak is in die Randburg-landdroshof uitgestel tot 4 Maart.

Soortgelyke plasings