Pelgrimsrus omgedolwe
Deur Zel-Marí Gelderblom
Wat tans in Pelgrimsrus afspeel, is nie meer ’n geïsoleerde wetsoortreding nie; dit is ’n groeiende omgewings- en veiligheidskrisis wat nie langer geïgnoreer kan word nie. Grootskaalse onwettige mynboubedrywighede deur sogenaamde zama zama-sindikate vind openlik langs openbare paaie en selfs in ekosensitiewe gebiede plaas. Die gevolge is reeds sigbaar: besoedelde waterbronne, ontbossing, gronderosie en ’n toename in verwante misdaad soos stropery. Tog blyk dit dat wetstoepassing en regeringsingryping gefragmenteer en onvoldoende is.
AfriForum het daarom ’n dringende beroep op sowel die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en die Departement van Water en Sanitasie gedoen om gesamentlik en daadwerklik in te gryp. Volgens AfriForum word verskeie wette reeds oortree, terwyl waterstelsels wat stroomaf vloei en uiteindelik deel van groter rivierstelsels vorm wat landbou, gemeenskappe en selfs die Krugerwildtuin ondersteun ernstig bedreig. Sonder gekoördineerde optrede, watergehalteondersoeke en rehabilitasieplanne kan die skade binnekort onomkeerbaar wees. Die vraag is nie meer of daar ingegryp moet word nie, maar hoe lank Suid-Afrika nog kan bekostig om apaties te wees.
Onwettige goudmynbou deur zama zamas naby Pelgrimsrus hou ’n ernstige bedreiging in vir een van Suid-Afrika se skoonste waterstelsels: die Blyderivier-canyon. Volgens berigte het die aktiwiteite die afgelope twee jaar na raming skerp toegeneem, met sowat 2 000 onwettige mynwerkers wat in die gebied bedrywig is Die gevolge is reeds sigbaar: groot hoeveelhede sediment wat in die rivier beland, en water wat op plekke roesbruin verkleur. Hierdie slik verstik vis-eiers, verstop stroomversnellings en ontwrig die fyn balans van ’n kwesbare ekostelsel.
Die impak strek egter veel verder as die onmiddellike omgewing. Die Blyderivier vloei uiteindelik in die Olifantsrivier, wat weer deel van die waterstelsel vorm wat deur die Nasionale Krugerwildtuin loop. Dit beteken dat die besoedeling en omgewingskade stroomaf versprei en selfs ikoniese bewaringsgebiede raak. Hoewel die SAPD reeds honderde arrestasies gemaak het, bly ’n volskaalse ingryping moeilik weens die omvang van die gebied en die groot hulpbronne wat benodig word om dit doeltreffend te moniteer.
’n Dokumentêre ondersoek, Lowveld hijacked deur Carte Blanche, belig die omvang van hierdie onwettige mynbou in die Laeveld, veral rondom Pelgrimsrus, Sabie, Barberton en Mbombela, en toon hoe zama zamas nie net verlate myne heropen nie, maar ook miljoene rand se omgewingskade veroorsaak deur groot grondoppervlakte te vernietig en gevaarlike chemikalieë soos sianied en swaelsuur in informele suurbaddens te gebruik, wat reeds die grondwater langs belangrike riviere besoedel en landbou sowel as gemeenskappe bedreig. Die dokumentêr wys ook hoe sowel konflikte tussen die onwettige mynwerkers en wetstoepassers as georganiseerde misdaadnetwerke en selfs vuurpotgevegte inwoners in vrees laat leef en veiligheidsuitdagings vererger. Die prent wat dit skep, is di van ’n streek wat letterlik gekaap is deur ’n informele goudekonomie met verwoestende ekonomiese, ekologiese en sosiale gevolge. Uiteindelik beklemtoon dit die dringende behoefte aan volhoubare, gekoördineerde optrede om die ekologie, waterbronne te beskerm, asook die mense wat daarvan afhanklik is.
In Pelgrimsrus groei die gemeenskap se kommer oor persoonlike veiligheid terwyl dié onwettige mynaktiwiteite voortduur. Gewapende zama zamas – dikwels ongedokumenteerde buitelanders – vernietig infrastruktuur en is betrokke by misdade wat die inwoners se algehele gevoel van veiligheid ernstig bedreig. Volgens inwoners soos Lucky Maphanga word selfs riviere soos die Motlatsirivier en Creekrivier oopgegrawe in die soeke na goud, wat nie net die omgewing beskadig nie, maar ook toeriste in gevaar stel. Pogings om met die zama zamas te praat word dikwels deur intimidasie gesaboteer, en selfs die SAPD se teenwoordigheid blyk onvoldoende te wees om die situasie te stabiliseer. Die dringende behoefte aan ingryping deur owerhede is duidelik: Die gesondheid van die omgewing en die veiligheid van gemeenskappe en besoekers hang aan ’n draad terwyl dié onwettige mynbedrywighede voortgaan.
Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.



