Opgradering en bykomende veiligheidsmaatreëls noodsaaklik, eis AfriForum ná grubotsings op gevaarlike N4-strook
AfriForum se Machadodorp-tak dring in ’n brief aan die N4-tolkonsessiehouer, Trans African Concessions (TRAC), daarop aan om die opgradering en implementering van bykomende veiligheidsmaatreëls van die N4 tussen Machadodorp en Belfast te prioritiseer. Dié versoek volg ná ’n aantal grubotsings gedurende April op dié strook van die snelweg in Mpumalanga plaasgevind het wat die lewe van minstens 14 mense geëis het. Dié noodlottige ongelukke het almal tydens gure weer plaasgevind.
Die burgerregteorganisasie versoek in sy skrywe aan TRAC onder meer inligting oor die konsessiehouer se planne en huidige maatreëls om die aantal ongelukke op hierdie gedeelte van die pad te beperk. Daarbenewens versoek AfriForum terugvoer rakende inspeksies of evaluasies wat van die padoppervlak en die dreinering van die oppervlak gedoen word – veral aangesien die meerderheid van ongelukke hier in nat weerstoestande plaasvind. AfriForum doen ook ’n beroep op TRAC om die oprigting van meer sigbare padtekens en die implementering van beter spoedbeheermaatreëls en waarskuwingstelsels by brandpunte op die roete te oorweeg.
Volgens Henrico Duvenhage, voorsitter van die Machadodorp-tak, is die strook van die N4-snelweg tussen Machadodorp en Belfast vinnig besig om in een van die gevaarlikste gedeeltes op dié snelweg te ontaard. “Ons kan eenvoudig nie langer net toekyk hoe mense week na week op hierdie pad sterf, terwyl duidelike veiligheidsmaatreëls ontbreek en opgradering van bestaande infrastruktuur agterweë gelaat word nie,” beklemtoon Duvenhage.
’n Hand van samewerking ten opsigte van bewusmakingsveldtogte en noodreaksieprotokolle is ook na TRAC uitgereik. “Dit sal goed wees as TRAC hande vat met gemeenskapsorganisasies soos AfriForum sodat daar in vennootskap proaktief saamgewerk kan word in belang van die veiligheid van elkeen wat dié pad gebruik,” verduidelik hy.
Lede van AfriForum se plaaslike buurtwag en tak is dikwels van die eerste mense op ongelukstonele op dié roete en verleen dan kritieke bystand deur onder meer verkeer rondom die toneel te reguleer, nooddienste te ondersteun en bystand aan beseerdes en hul naasbestaandes te verleen. “Hierdie roete moet veiliger gemaak word sodat sulke tonele nie alledaags word nie,” sê Duvenhage.
Die AfriForum-tak het TRAC voorts versoek om binne 14 dae amptelik op die skrywe te antwoord sodat ’n vergadering tussen TRAC, AfriForum en ander plaaslike rolspelers gehou kan word om die samestelling van ’n volhoubare padveiligheidsplan vir die roete te bespreek.
“Ons eis nie die onmoontlike nie. Ons vra net dat daar met erns en empatie reageer word op ’n krisis wat nou ’n patroon geword het,” sluit Duvenhage af.