|

Onwettige planthandel bedreig ons flora én ons mense

Alana Bailey, hoof van Kultuursake

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bekendgemaak dat drie Suid-Afrikaanse en twee buitelandse manlike verdagtes tussen die ouderdomme van 41 en 61 in die vroeë oggendure van Sondag (22 November 2026) in die Noord-Kaap gearresteer is nadat hulle in die besit van ’n groot hoeveelheid beskermde vetplante betrap is. Die arrestasie het gevolg op misdaadintelligensie wat ontvang is rakende ’n voertuig wat na bewering gebruik is om plante wederregtelik in die omgewing van Steinkopf te versamel. Die waarde van die plante wat gevind is, is nog onbekend. Die mans bly voorlopig in aanhouding terwyl die saak ondersoek word.

Hierdie arrestasies volg kort op die hakke van die reddingspoging om vyf kremetartbome wat na Georgië uitgevoer sou word, te red. Amptenare van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het op 17 Julie vanjaar op die bome by die Durbanse hawe afgekom en dit gekonfiskeer. Na bewering is die bome onwettig naby Lephalale in Limpopo verwyder. Die verantwoordelikes staar nou vervolging in die gesig.

Nadat die bome gekonfiskeer is, het beplanning vir die hervestiging daarvan begin. Die vervoer van dié vyftal, wat elk ’n abnormale vrag vragmotor sou vereis, het groot logistieke én finansiële uitdagings opgelewer, maar die Kremetartboom Stigting het ingetree en die nodige fondse is ingesamel. Voor die terugreis van sowat 900 km kon begin, het die projekleier, dr. Sarah Venter, die bome behandel om verrotting te voorkom. Hulle is die afgelope naweek in die Timbavati Natuurreservaat hervestig. Die nodige kundigheid is daar beskikbaar om die sensitiewe hervestigingsproses te bestuur en die bome kan daar teen verdere plundering beskerm word. Nou begin die spanningsvolle wagtyd om te sien of die bome, wat meer as 300 jaar oud is, sal wortelskiet en oorleef.

Suid-Afrika het van die wêreld se mees unieke plante, wat dit toenemend ’n teiken vir onwettige planthandel maak. Dit plaas groot druk op bedreigde spesies wat dikwels net in klein natuurlike verspreidingsgebiede voorkom.

Volgens die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) is die onwettige handel in fauna en flora ’n bedryf wat miljarde dollars sterk is. In sommige lande is die opbrengs daaruit meer as uit dwelmhandel. Die misdaadorganisasies wat dit bedryf, is gekoppel aan ander misdade, byvoorbeeld mensehandel. Dit finansier selfs militêre magte in Afrika. ’n Gebrek aan hulpbronne, effektiewe internasionale kommunikasie tussen owerhede en prioritisering kniehalter optrede daarteen. Net sowat 5% van die sake teen dié smokkelaars  loop wêreldwyd op veroordelings uit.

Ongeveer 60% van die wêreld se bedreigde spesies kan binnekort uitsterf as die smokkelhandel nie onder beheer gebring word nie. Dit bedreig nie net biodiversiteit nie, maar knou lande se toerismebedryf, belastinginkomste en mediese navorsing.

Die probleem kan op twee maniere aangepak word: Deur die waaksame optrede van die publiek soos in die twee genoemde gevalle en deur skaars plantspesies te kweek tot dit algemeen beskikbaar raak en nie meer hemelhoë pryse op die swartmark haal nie.

Met die oog op laasgenoemde het AfriForum Onderwys in September vanjaar ’n veldtog van stapel gestuur om bewusmaking oor vetplantstroping te skep. Skole word aangemoedig om hul eie vetplanttuine te vestig en leerders om ’n vetplantjie by die huis te kweek en te versorg. Só kan leerders nie net meer oor Suid-Afrika se besonderse biodiversiteit leer nie, maar self deel word van die oplossing.

Die Suid-Afrikaanse plantekoninkryk is ’n onvervangbare skat waaroor ons jaloers moet waak!

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid