Nuwe witskrif kan sommige munisipaliteite se grafskrif wees
AfriForum het vandag in skrywe aan die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sy opmerkings dat kleiner, mislukte munisipaliteite met groter munisipaliteite moet saamsmelt gekritiseer en meen dat hierdie nie die oplossing is vir munisipale probleme nie, maar dat dit moontlik meer probleme kan veroorsaak. Dit volg ná Hlabisa op 19 Mei tydens die bekendstelling van die hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering verskeie gedagtes gedeel het wat daarop gemik was om moontlike veranderinge aan munisipale grense aan te kondig. Die Witskrif het ten doel om die rol en funksies van plaaslike regering nuut te bedink en oplossings vir huidige probleme te vind.
Volgens AfriForum wys hierdie opmerkings opnuut dat die regering nie in staat is om hulle eie sistemiese tekortkominge raak te sien nie en dan herorganisering verwar met probleemoplossing.
Die minister se uitlating dat munisipaliteite wat nie lewensvatbaar is nie eerder moet saamsmelt met groter munisipaliteite wat ’n behoorlike finansieringsmodel het, is gevaarlik aangesien die oorsprong van die probleem – swak dienslewering en wanbestuur – nie hierdeur aangeroer word nie. Die grootte van ’n munisipaliteit hou nie direk verband met goeie dienslewering nie.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, sou munisipaliteite soos Mangaung uitgeblink het as die uitbreiding van munisipale grense en verdere sentralisering die oplossing was. “Die teendeel is egter waar. Mangaung, die enigste metro in die Vrystaat en die grootste in die land, is reeds sedert April 2022 weens wanbestuur onder artikel 139-administrasie geplaas.
“Om munisipale grense aan te pas is soos om warm patat te speel met die eintlike probleme: wanbestuur en korrupsie. In plaas daarvan dat die probleme opgelos word, word die ‘mislukte’ munisipaliteit bloot hernoem en deur ’n groter munisipaliteit geabsorbeer,” voeg Steffens by.
AfriForum is van mening dat samesmeltings nie die kernprobleme oplos nie. Dit word trouens moeiliker en meer ingewikkeld om geografies komplekse gebiede te bestuur. Hoe groter die stelsel is wat bestuur moet word hoe meer infrastruktuur en beter bestuursvaardighede word benodig.
Wat groter munisipaliteite wel aanloklik maak vir die regering, is die feit dat die glyskaal van munisipale salarisse gekoppel is aan die grootte van die munisipaliteit. Hoe groter die area van munisipaliteit is wat ingesluit word vir heffings, hoe groter word die salarisse van die munisipale amptenary.
In die skrywe sê AfriForum dat die regering moet erken dat dit al meer dringend raak vir vennootskappe tussen gemeenskapsorganisasies soos AfriForum, privaat maatskappye en munisipaliteite ten einde werkbare oplossings vir hierdie uitdagings te kry. “Baie munisipaliteite sukkel om voor te bly met verswakking van infrastruktuur, algemene dienslewering en basiese administrasie soos rekeninge. Talle ondernemings en organisasies wat belange het in hul areas sal veel eerder help om die munisipaliteit weer op die been te kry eerder as om toe te kyk hoe als ten gronde gaan,” sluit Steffens af.
AfriForum is daartoe verbind om munisipaliteite verantwoordbaar te hou binne hulle huidige afbakening. Hierdie standpunt word ook deurentyd gehandhaaf tydens AfriForum se volgehoue deelname aan die hersieningsproses van die Witskrif oor Plaaslike Regering.