|

Nuwe bestuur vir Bronkies-tak sit skouer aan wiel

Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het op 18 Maart gereorganiseer en is reeds besig met die beplanning van projekte wat in die nabye toekoms uitgevoer sal word.

Die nuwe takbestuur bestaan uit Amedie Bull (voorsitter), Donovon Fernandez (ondervoorsitter), Elsie Scott (sekretaris), Lea Bezuidenhout (tesourier), Madeleen Roets (plaaslikeregeringsake), Dries Fella (omgewingsake), Henlu Venter (buurtwagleier) en Deleharp du Preez (jeug).

Die bestuur moedig gemeenskapslede aan om by die tak betrokke te raak met veiligheidsinisiatiewe, skoonmaakprojekte en veral jeugprogramme.

“Dit is vir ons belangrik om as nuwe bestuur daarop te fokus om die dorp en landelike gemeenskap van Bronkhorstspruit by ons projekte betrokke te kry. Op hierdie manier kan ons die dorp en landelike gebiede se probleme aanpak en uitdagings die hoof bied,” sê Bull, die nuwe voorsitter van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak.

“Dit is noodsaaklik om strukture op voetsoolvlak op te rig sodat ons munisipale verval, die agteruitgang van dienste en misdaad met volhoubare projekte kan hokslaan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum se Bronkhorstspruit-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van hul projekte om gemeenskapsveiligheid en verval van die dorp te takel.

Soortgelyke plasings