NUUSKOMMENTAAR: Nasionale “monoloog” rafel uit nog voor dit begin
Deur Ilze Nieuwoudt
Tydens die staatsrede wat in Februarie gehou is, het president Cyril Ramaphosa die land opgeroep om gereed te maak vir ’n nasionale dialoog wat daarop gemik is om ’n “nuwe pad vir ons land uit te kerf”. Volgens Ramaphosa moet daar by dié belangrike geleentheid ’n visie vir die volgende 30 jaar gedefinieer word, en moet dit – in sy eie woorde – ’n “plek wees waar elkeen ’n stem het”.
Van dié lugkastele het daar sedertdien niks gekom nie; inteendeel, die één sogenaamde dialoog wat moes herbevestig dat elkeen ’n rol het om te vervul in die bou van ’n beter Suid-Afrika, het in die afgelope week soos ’n afgeleefde kombers aan alle kante begin uitrafel.
Die krake het egter reeds in Junie begin wys toe die Arbeidersparty van Suid-Afrika, ’n party wat bande het met die vakbond Amcu, die beoogde dialoog as “ongrondwetlik, irrasioneel en uit ’n geldoogpunt onverantwoordelik” afgemaak het. Die party het selfs ’n dringende hooggeregshofaansoek ingedien om die aanbied van die dialoog te laat verbied – ’n poging wat intussen misluk het.
Teen die einde van Junie het ook die Demokratiese Alliansie (DA) aan die geleentheid onttrek. Die DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n toespraak oor die besluit Ramaphosa se weiering om teen korrupsie in eie geledere op te tree, as die rede vir hul onttrekking voorgehou. Helen Zille, voorsitter van die party se federale raad, het die dialoog gekritiseer en gesê dit is bloot ’n “rookskerm vir die ANC se 2026-verkiesingsveldtog”.
En hoewel verskeie instellings die DA, as lid van die regering van nasionale eenheid, vir dié besluit gekritiseer het, het die einste instellings – waaronder die Thabo Mbeki-, Oliver & Adelaide Tambo- en FW de Klerk-stigting – wat gesamentlik as die Nalatenskapstigings bekendstaan, die afgelope Vrydag aangekondig dat ook hulle onttrek aan die dialoog se eerste nasionale konvensie. In ’n gesamentlike verklaring het die organisasies aangedui dat die besluit geneem is omdat hulle meen dat die “kernbeginsels wat bedoel was om die hele nasionale dialoog te onderlê, geskend is in die haas om ’n byeenkoms op 15 Augustus aan te bied”. Die organisasies meen voorts dat daar “diepgaande meningsverskille” is tussen die lede van die voorbereidende taakspan rakende die aard, gereedheid en bestuur van die dialoog.
Enkele dae later – op Woensdag 12 Augustus – het die Solidariteit Beweging, waaronder AfriForum en Solidariteit, ook hul stem laat hoor en aangekondig dat dié organisasies ook nie aan die eerste konvensie van die dialoog gaan deelneem nie omdat die geleentheid vir eie gewin gekaap is deur die ANC. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, het tydens ’n mediakonferensie oor dié aankondiging benadruk dat die ANC nie vertrou kan word om die proses te lei om oplossings vir die land se krisisse te vind nie. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het op sy beurt die nasionale dialoog as ’n “ANC-monoloog” bestempel waarin die party, soos by ander forums, net gaan poog om sy eie beleid aan ander af te smeer.
Sedertdien kry die stof steeds nie lê nie en het die MK-party én die VF Plus ook aangedui dat hulle ook nie Vrydag gaan saampraat nie. Die VF Plus se Corné Mulder meen dat die “ANC as die grootste party in die regering van nasionale eenheid nie gereed is vir ’n werklike deurdagte, oplossoekende dialoog nie”. Die MK-party meen op hul beurt dat die geleentheid ’n “peperduur vertoonstuk” is waarin gepoog word om die parlement te omseil en ’n parallelle staat te skep.
En terwyl planne vir eerskomende Vrydag se eerste konferensie volstoom voortgesit word, het die voorsitter van die organiseringskomitee, Biochoko Ditlhake, Maandag aangevoer dat 557 individue uit 28 sektore aangedui het dat hulle wel die geleentheid sal bywoon – ’n mens kan net wonder hoe dié getal na afloop van dié onstuimige week lyk en hoe hard die ANC en sy vriende se monoloog tydens dié afgewaterde konferensie gaan weerklink.