Moedertaaldag 2025 – Praat Afrikaans!
Wanneer besoekers aan verre lande advies vra oor wat hulle kan doen om hulle reis te vergemaklik, is die antwoord gewoonlik “Praat ’n paar woorde in die plaaslike taal en mense sal jou baie meer vriendelik behandel.” Foute wat uitgewys word, is dat jy die verkeerde taal gebruik, soos Spaans in Portugal of Deens in Finland. Franse is weer berug daarvoor dat hulle toeriste wat hulle in Engels aanspreek, soms stief behandel. Taal tel en Internasionale Moedertaaldag wat jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier word, is ’n gepaste geleentheid om ons weer daaraan te herinner.
Jare gelede het ’n lid by AfriForum gekla dat sy gunstelingrestaurant nie Afrikaanse spyskaarte het nie. Ons het die onderneming dadelik gekontak en die eienaar se verduideliking was: “Natuurlik het ons Afrikaanse spyskaarte, maar niemand vra ooit daarvoor nie”. Dit verduidelik baie van die taaldilemmas van Afrikaanssprekendes – die verbruikers vra nie diens in ons taal nie en die verskaffers bied dit nie spontaan aan nie.
AfriForum het onlangs ’n peiling geloods om te probeer bepaal hoe van ons lede oor diens in hulle moedertaal, Afrikaans, voel. Duidelik speel taal ’n belangrike rol in hulle keuse van diensverskaffers. Peilings lok meestal nie veel reaksie uit nie, maar 1 934 mense het die keer daaraan deelgeneem!
Sowat 81% van die deelnemers het bevestig dat wanneer hulle eerste interaksie, hetsy telefonies of in persoon met ’n verskaffer in Afrikaans is, hulle graag die persoon of sakeonderneming wil ondersteun. Kommentaar wat bygevoeg is, was onder meer “Ek voel ek kan beter kommunikeer met sulke ondernemings en vertrou hulle meer” en “Ek sal hulle gereeld ondersteun en hulle dienste wyd verkondig”.
Die Afrikaanse handelsmark is kapitaalkragtig. Daar word geraam dat sowat ’n derde van die mark in die land uit Afrikaanssprekendes bestaan en besigheidseienaars moet dus beslis van hierdie ingesteldheid kennis neem.
Van die besigheidseienaars wat aan die peiling deelgeneem het, het genoem dat hulle graag Afrikaans deur hulle werksaamhede wil uitbou en dat die gebruik van dié taal hulle help om hulle lojale kliëntebasis te behou. Hulle ervaar wel ook uitdagings, soos onbekendheid met die terminologie van hulle vakgebied en die verengelsing van hulle kliëntebasis en werksomgewing. Een deelnemer het byvoorbeeld genoem: “Ek is ’n prokureur en word verplig om in die hof Engels te praat – ongeag of my kliënt ’n ongeskoolde Afrikaanse persoon is. Die tolke in die howe is baie keer swak – dit is die tipiese lost in translation.”
Wat reklame aanbetref, is ’n handige wenk dat humor immergewild bly en dat advertensies met inhoud wat verbruikers laat glimlag, hulle lank bybly!
Die gevolgtrekking wat die navorsingsontleder, Lize-Mari de Villiers, uit die terugvoer van die respondente gemaak het, is dat daar ’n sterk behoefte aan die gebruik van Afrikaans in die sakewêreld is. Sy noem verder dat die deelnemers oor die algemeen voorkeur gee aan ondernemings wat in Afrikaans kommunikeer. Sy merk ook ’n duidelike tendens op dat ondernemings wat pogings aanwend om dienste in ons moedertaal aan te bied, positiewe reaksies ontvang, selfs al is die taal wat hulle gebruik nie heeltemal suiwer nie. Die peiling is net nog ’n bewys dat die gebruik van Afrikaans nie net ’n voorkeur is nie, maar ook ’n belangrike element in die versterking van kliënteverhoudings en die bevordering van kulturele identiteit.
Die belangrikste les wat ons hieruit kan leer, is dat ons Afrikaans lewendig hou deur dit te gebruik – nie alleen tuis of tussen familielede en vriende nie, maar ook wanneer ons sake doen, professionele dienste benodig of aanbied. Dit verg geen formele kwalifikasies in die taal nie, bloot die bereidwilligheid om te probeer en daardeur tot die rede én die hart van Afrikaanse verbruikers en diensverskaffers uit te reik.
Net so kan enkele woorde in ’n ander taal die deur na nuwe markte oopsluit en die begin van hegte sakeverhoudings wees. Ons moet die sprekers van ander plaaslike of buitelandse tale met dieselfde respek behandel as wat ons van hulle verwag.
Respek vir ander en koestering van, maar ook aktivisme vir die eie moedertaal is immers die boodskap van Internasionale Moedertaaldag.