|

Misdaadrapportering noodsaaklik om misdaad in Jeffreysbaai te bekamp

Die AfriForum-tak in Jeffreysbaai doen ’n beroep op die gemeenskap om misdade so gou as moontlik by hul plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld ten einde te help om misdaad te bekamp.

Die tak meen dat gemeenskapslede só ’n sleutelrol kan speel in hul eie veiligheid. Voorts plaas die organisasie ook klem daarop dat gemeenskappe bewus moet wees van die veiligheidstrukture in hul omgewing waar hulle self betrokke kan raak.

“Selfs die geringste stukkie inligting kan plaaslike veiligheidsdienste en die SAPD help om misdadigers vas te trek. Partykeer is daar ’n skakel tussen een misdaad en ’n ander een en die verskil tussen ’n misdadiger agter tralies en ’n misdadiger op straat is die gemeenskap se gewilligheid om misdadige aktiwiteite te rapporteer,” sê Chris Morgan, AfriForum se ondervoorsitter vir die Jeffreysbaai-tak.

Volgens AfriForum is daar talle redes waarom mense nie misdade wil aanmeld nie. Hulle word dalk nie beleefd behandel by die aanklagkantoor nie; ervaar taalhindernisse; of vrees dat hulle moontlik by langdurige regsgedinge betrek gaan word.

“Dit bly egter van kardinale belang dat misdade rapporteer moet word. Sonder ’n rekord van die voorval is daar nie veel wat die SAPD of veiligheidsrolspelers kan doen om die skuldiges vas te trek nie,” voeg Morgan by.

Volgens Morgan is hierdie data ook belangrik vir veiligheidsrolspelers om misdaadpatrone akkuraat te identifiseer en doeltreffende voorkomingsplanne op te stel en toe te pas.

“AfriForum glo in aktiewe gemeenskapsdeelname en vennootskappe met bestaande veiligheidstrukture. Ons kan slegs resultate behaal wanneer ons saam werk en een van die belangrikste boustene van hierdie samewerking is dat misdaad aangemeld moet word.”

AfriForum is daartoe verbind om die plaaslike SAPD en ander gemeenskapsveiligheid-inisiatiewe te ondersteun en te help om gemeenskappe te beveilig.

Besoek www.wordlid.co.za om by die Jeffreysbaai-tak aan te sluit en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te help maak.

Soortgelyke plasings