Laksheid laat dele van Standerton al vir maande lank sonder werkende reservoir
AfriForum se Standerton-tak het ’n skrywe aan die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit gerig rakende ’n nuwe reservoir in uitbreiding 10 wat tot op hede steeds nie water aan dele van Standerton verskaf nie. AfriForum eis nou dat die munisipaliteit so gou moontlik die nodige herstelwerk doen sodat die reservoir ten volle operasioneel is óf hande vat met die burgerregteorganisasie sodat hierdie probleem so gou moontlik die hoof gebied kan word.
AfriForum het onlangs verneem dat die nuwe reservoir, wat aan die hoek van Coligny-, Kieser en Charl Cilliersstraat geleë is, nog geen water pomp nie. Die reservoir moes al ses maande gelede inwerking getree het, maar dit is skynbaar steeds nie gedoen nie. Intussen word sommige inwoners se watertoevoer gereeld onderbreek of afgesny.
“Dit is veronderstel om waterverskaffing in die gebied te verbeter, maar nou word inwoners steeds net deur een reservoir bedien. Die munisipaliteit is besig om mense se lewenstandaard te verlaag tot op so ’n mate dat mense nie meer in die gebied kan of wil bly nie,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.
AfriForum se Standerton-tak het verneem dat daar ’n meganisme benodig word wat tussen die twee reservoirs geïnstalleer moet word om die watervloei te beheer sodat water nie oorvloei nie. Dít is glo nog nie gedoen nie, wat beteken dat duisende liter water nie na huishoudings gepomp kan word nie.
“Iets wat ’n eenvoudige oplossing het, veroorsaak groot probleme vir inwoners. Terwyl die water gereeld af is of inwoners lae drukking ervaar, word miljoene rand se infrastruktuur nie na behore benut nie,” voeg Enslin by.
“Dit is uiters kommerwekkend om te sien dat waterverskaffing in byna geen munisipaliteit in die Hoëveld op standaard is nie. Waterkwaliteit is swak, aangesien die water in dorpe soos Morgenzon, wat deel is van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, bruin is. Dorpe soos Bethal en Secunda word weer geteister met watertekorte, aangesien Rand Water nie genoegsame hoeveelhede aan die dorpe pomp nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
AfriForum is in die proses om die veelvuldige waterprobleme in die provinsie in ’n skrywe aan die Provinsiale Departement van Water en Sanitasie uiteen te sit. AfriForum gaan hiermee voortgaan om druk op die departement te plaas om waterverskaffing in die provinsie te verbeter en die departement aanmoedig om saam met AfriForum se plaaslike takke uitdagings ten opsigte van dienslewering, in die gees van samewerkende regering en ontwikkeling, te takel.
Diegene wat steeds uitdagings met waterverskaffing ervaar kan dit by AfriForum aanmeld sodat dit verder gevoer kan word. Besoek https://www.artikels.afriforum.co.za/water-wil-ons-he/ om die probleem aan te meld.
Sluit vandag nóg by AfriForum se Standerton-tak aan om die stryd vir skoon water voort te sit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.