|

Kyk: AfriForumTV breek deur die grense!

AfriForum het gisteraand geskiedenis gemaak toe die organisasie AfriForumTV, sy gratis digitale platform vir lede en nielede, by die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel het.

Die platform bied ’n wye verskeidenheid digitale inhoud in Afrikaans wat intekenaars in die gemak van hulle eie huise op hulle televisie, rekenaars of selfone kan verken en kyk.

Omtrent 150 gaste het die bekendstelling by die AfriForum Teater bygewoon.

AfriForumTV is nóg ’n kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak te bied met films, kinderprogramme, sportuitsendings en fiksie- en realiteitsreekse.

Die inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging asook eksterne inhoudverskaffers.

Nadia Beukes, bekende televisiepersoonlikheid, wat as seremoniemeester opgetree het by die geleentheid wat deur meer as 150 gaste bygewoon is, het dit raak opgesom en gesê: Die bekendstelling van AfriForumTV is die maak van geskiedenis. “Ons vat iets uit ons eie geskiedenis en harte en skep daarmee iets nuut vir ons nageslagte.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die rede agter die skep van AfriForumTV is eenvoudig. “Terwyl baie dinge in die land skeefloop, gaan ons nie in moedeloosheid verval nie. Soos die wese en DNS van die Solidariteit Beweging is, staan ons op en skep iets nuut en ’n toekoms vir onsself en ons kinders.

“Ons doen self deur selfstandighede gemeenskappe en instellings te skep. As die tersiêre sektor onder druk is, begin ons Akademia en Sol-Tech. Soos wat mense se veiligheid al hoe meer bedreig word, stig ons buurtwagte om ons gemeenskappe te beskerm.

“Die Here het vir ons hande aan die einde van ons eie arms gegee waarmee ons kan bou.”

Hy het ook verwys na die begin van AfriForum Teater, Maroela Media en Helpende Hand wat verlede jaar R50 miljoen se studiehulp bewillig het vir studente.

Volgens Kriel was COVID ’n tragedie waartydens baie mense swaargekry en selfs gesterf het. Dit is egter ook in die tyd wat mense se gewoontes verander het. “Mense het gewoond geraak aan stromingsdienste en die tradisie van televisie het verander. Mense wil nou kyk wat hulle wil, wanneer hulle wil en op watter toestelle hulle wil.”

Kallie Kriel deel die verhoog met Nadia Beukes.

Die Solidariteit Beweging verteenwoordig sowat 500 000 gesinne en ’n stromingsplatform soos AfriForumTV het nodig geword om op ’n alternatiewe manier met hulle te kommunikeer en boodskappe uit te kry.

Ons vat iets uit ons eie geskiedenis en harte en skep daarmee iets nuut vir ons nageslagte.

Kriel meen ook in die lig van die agteruitgang van byvoorbeeld die gedrukte media, het tegnologie nuwe geleenthede geskep. Baie kunstenaars en kreatiewe mense het tydens die pandemie hul werk verloor en die instelling van iets soos AfriForumTV kan ook weer vir hulle hoop skep.

Die akteur en komediant Hannes Brummer het tydens die bekendstelling vir groot vermaak gesorg.

Hannes Brummer het tydens die bekendstelling die gehoor vermaak.

AfriForumTV is beskikbaar by www.afriforumtv.co.za of kan afgelaai word van Google Playstore.

Foto’s en video: Marthinus Koekemoer

Soortgelyke plasings