|

Kabeldiefstal: AfriForum daag Ekurhuleni se onbillike heraansluitingsfooi uit

Inwoners in die Ekurhuleni-metro wat die slagoffers is van kragonderbrekings weens kabeldiefstal, moet nou R1 725 per huishouding opdok alvorens dié metro kragtoevoer sal herstel. AfriForum daag nou dié onbillike praktyk – wat nie deur enige gepromulgeerde verordeninge of amptelike beleide afdwingbaar gemaak is nie – ten sterkste uit en eis dringend antwoorde hieroor van die metro se munisipale bestuurder, dr. Imogen Mashazi.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, moes vier huishoudings in die metro onlangs elk R1 725 betaal vir een gesteelde kragkabel voordat die metro die nodige herstelwerk gedoen het. “Nie net plaas dié gebruik ’n onregverdige finansiële las op slagoffers van misdaad nie, dit skep ook groot verwarring onder inwoners,” verduidelik Ferreira.

’n Munisipale memorandum wat die prosedure vir die heraansluiting van krag uiteensit, is in 2023 uitgereik, maar tot dusver is geen gepromulgeerde verordeninge of amptelike beleide daaroor op Ekurhuleni se webwerf beskikbaar gestel nie en plaas volgens AfriForum die afdwingbaarheid van die memorandum in gedrang. Daarbenewens bestaan daar duidelike teenstrydighede in die toepassing van die fooi. Hoewel die memorandum bepaal dat slegs die persoon wat die probleem aanmeld, verantwoordelik gehou sal word vir die betaling van die heraansluitingsfooi, word dit in die praktyk heel anders toegepas en word elke huishouding wat van die gesteelde kabel afhanklik is, verplig om vir die heraansluiting te betaal.

Luidens die skrywe wat Ferreira gister aan Mashazi gerig het, het die metro se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, boonop in ’n onlangse media-onderhoud verklaar dat daar geen formele beleid oor die heraansluitingsfooi ná kabeldiefstal bestaan nie. Xhakaza het voorts ook aangevoer dat die heraansluitingsfooi slegs geld vir individue wat skuldig bevind is aan die gepeuter met elektriese infrastruktuur.

“Ons eis onmiddellike duidelikheid van die metro oor die wetlike en beleidsraamwerk waarop hierdie heraansluitings tans geskoei is. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners gestraf word vir iets buite hul beheer sonder dat daar enige duidelike wetlike basis daarvoor bestaan. Indien Ekurhuleni hierdie fooi wil afdwing, moet hulle eers hul huis in orde kry en behoorlike regulasies daarstel,” beklemtoon Ferreira.

AfriForum wag nou op ’n formele reaksie van die metro en sal voortgaan om die regte van inwoners te beskerm.

Soortgelyke plasings