|

Jan Kempdorp-rioolsaak nou in Groen Skerpioene se hande

Die klagtes wat AfriForum se Vaalharts-tak op 29 Oktober verlede jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teen die munisipale bestuurder van die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit aanhangig gemaak het, is nou aan die Groen Skerpioene oorhandig. Dié saak is gemaak ná die tak verlede jaar tydens hul blou-en-groendruppelprojek die toestand van die rioolaanleg in Jan Kempdorp waargeneem het.

Die rioolaanleg is al ’n geruime tyd buite werking en die gevolg is dat riool – wat steeds daarheen gepomp word, maar nie behandel word nie – nou in die dorp inloop, ’n gesondheidsrisiko vir die inwoners inhou en die omgewing besoedel.

“Ons verwelkom hierdie beslissende optrede en vertrou dat die gespesialiseerde eenheid die saak deeglik sal ondersoek en verseker dat regstellende maatreëls stiptelik ingestel sal word om die gemeenskap en omgewing te beskerm,” sê Japie Saunders, voorsitter van AfriForum se Vaalharts-tak.

“AfriForum bly daartoe verbind om die gesondheid en veiligheid van ons gemeenskappe en die integriteit van ons natuurlike hulpbronne te beskerm. Ons sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en met alle relevante owerhede saam te werk om ’n volhoubare oplossing te verseker,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings