Hoë waterverbruik in Gauteng eintlik metro’s se skuld
Gautengers is nie noodwendig verantwoordelik vir die hoë waterverbruik in dié provinsie nie. Só meen AfriForum wat vandeesweek ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by elk van Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite (Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane) ingedien het om feite oor dié metro’s se hoë waterverbruik te verkry. Die burgerregteorganisasie reken dat waterverliese waarvoor die metro’s verantwoordelikheid moet neem – soos waterlekkasies, agterstallige instandhouding en onwettige aansluitings – veel eerder die skuld vir hoë verbruik moet kry as inwoners.
Waterbeperkings is reeds in November verlede jaar in al drie metro’s ingestel om inwoners te dwing om water meer spaarsamig te gebruik. Die metro’s se jongste vlakke van waterverbruik het die hoeveelheid water wat deur Rand Water voorsien kan word, met sowat 14% oorskry.
“Alhoewel dit belangrik is vir verbruikers om water te bespaar, kan ’n mens nie die metro’s se eie vermorsing van water oor die hoof sien nie. Dit blyk makliker vir die metro’s te wees om die skuld vir hul hoë waterverbruik op inwoners te pak en daardeur die aandag van die werklike probleme af te lei,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
Die werklike probleme, insluitende sistemiese gebreke soos waterlekkasies, agterstallige instandhouding, onwettige aansluitings en ’n jare lange gebrek aan investering in infrastruktuur, vereis volgens De Vaal daadwerklike en dringende aandag. Die gebreke is oral in die provinsie duidelik waar die instandhouding van waterinfrastruktuur al jare lank agterweë gelaat is en wateronderbrekings in veral dele van Johannesburg en die Oos-Rand ’n algemene verskynsel geword het.
Dis duidelik dat waterbeperkings nie gehelp het om waterbesparings teweeg te bring nie.
AfriForum hoop om met die PAIA-aansoeke duidelikheid te kry oor die metro’s se waterverbruik. Die inligting wat aangevra is, sal help om te bepaal wie aanspreeklik is vir die hoë verbruik. Dit sal ook moontlikhede vir besparings identifiseer.
Forum Nuus het verlede maand met ontstoke inwoners in Germiston gesels oor die toepassing van beurtwater in dié deel van Ekurhuleni. AfriForum is in die proses om nog noodwaterpunte hier op te rig om verligting vir inwoners te bied.
Volgens inligting op die Platform for a Water Secure Gauteng, ’n forum wat in September 2024 deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS), Rand Water en Gauteng se munisipaliteite tot stand gebring is om groter deursigtigheid oor Gauteng se waterverbruik te bevorder, het waterverliese in Johannesburg sedert September 2024 van 35% tot 37% toegeneem. In die Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s het verliese in dieselfde tydperk onveranderd gebly, maar was steeds hoog met waterverliese van onderskeidelik 33% en 28%.
“Die teiken vir verliese is 15%. Indien verliese dié teiken haal, sal waterbeperkings onnodig wees. Dis duidelik dat waterbeperkings nie gehelp het om waterbesparings teweeg te bring nie, omdat waterverliese die primêre oorsaak van die krisis is en nie inwoners se waterverbruik nie. Daarom sal dit onregverdig wees om Gautengers met waterbeperkings te straf indien die grondoorsake van die metro’s se hoë waterverbruik nie opgelos word nie,” benadruk De Vaal.
“Inwoners se reg op toegang tot water word ondermyn deur munisipaliteite wat nie hul watervoorsieningstelses behoorlik bestuur nie. Hoewel ons heelhartig saamstem dat alle inwoners ’n verantwoordelikheid het om water spaarsamig te gebruik, is waterbeperkings ’n onvolhoubare oplossing as die groter sistemiese gebreke onopgelos bly,” sê De Vaal.
Die metro’s het tot 14 April om inligting aan AfriForum te voorsien. Indien die inligting wat AfriForum ontvang, bevestig dat die grondoorsake van Gauteng se waterkrisis nie doeltreffend hanteer word nie, sal die organisasie regstappe teen die betrokke metro’s oorweeg om hulle te dwing om die herstel van waterlekkasies en die verwydering van onwettige aansluitings te prioritiseer.