GOP-insette: AfriForum sê Naledi-munisipaliteit moet fokus op instandhouding en opgradering
Die AfriForum-tak in Vryburg het hul voorstelle vir die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne (GOP) by die Naledi Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Hierdie takke het voorgestel dat die munisipaliteit in beide Vryburg en Stella moet fokus op die opgradering en instandhouding van die dorpe se infrastruktuur.
Hoewel die Naledi-munisipaliteit wel oor die laaste paar jaar geld bestee het aan herstelwerk in dié dorpe was dit net ’n tydelike oplossing. Infrastruktuur bly ’n wesenlike probleem en die munisipaliteit doen nie genoeg om dit in stand te hou nie. In hul voorstelle spreek AfriForum se Vryburg-tak onder meer kommer uit oor die verval van infrastruktuur by veral die water- en rioolwerke, asook die stormwaterafvoerpype. Die tak meen dat die water- en rioolwerke eerste prioriteit moet geniet aangesien inwoners van Vryburg gereeld vir weke aaneen deur rioolwater moet ry.
Buiten dié probleme, is die toestand van paaie steeds ’n groot bekommernis in beide dorpe. Die hoeveelheid slaggate op sommige paaie maak dit byna onbegaanbaar vir padverbruikers. Stoptekens word gesteel en nie vervang nie en die padmerke by stopstrate is al so verweer dat motoriste nie kan sien of hulle wel moet stop nie wat die risiko vir ongelukke verhoog. AfriForum het al self van die padtekens vervang en padmerke oorgeverf, maar dit bly die munisipaliteit se verantwoordelikheid om fondse hiervoor beskikbaar te stel en dit so vinnig as moontlik reg te stel.
AfriForum het vroeër vanjaar ’n memorandum van verstandhouding by die munisipaliteit ingedien vir goedkeuring en ondertekening. Hierdie dokument vat die verhouding tussen die munisipaliteit en AfriForum saam en sal samewerking tussen die partye in die toekoms vergemaklik. Dié dokument help AfriForum ook om verskeie projekte in die dorp aan te pak en die infrastruktuur te verbeter wat dan op sy beurt weer die munisipaliteit se hande ligter maak.
Die tak vra ook dat die munisipaliteit genoeg fondse sal begroot vir die instandhouding van parke in die dorpe asook vir die instandhouding van die vullisterreine. Die vullisterreine het in vergelyking met vyf jaar terug aansienlik verbeter maar voldoen steeds nie aan al die nodige vereistes nie. AfriForum versoek dat die munisipaliteit genoeg fondse beskikbaarstel om die vullisterreine op standaard te kry.
Die Naledi-munisipaliteit moet ook vir die volgende tekortkominge in Vryburg en Stella begroot:
- Instandhouding van die begraafplase.
- Verhoogde sekuriteit by die begraafplase.
- Vinniger herstel van gebarste pype.
- Ingryping by onwettige storting.
- Instandhouding van die elektriese netwerk.
AfriForum het verlede jaar ’n kwartaallikse vergadering met die munisipaliteit versoek om vordering te moniteer en nuwe uitdagings vinniger uit te sorteer en dit is wel besig om vanjaar plaas te vind.
“Die GOP is ’n ideale geleentheid om die takke se kommentaar en voorstelle oor die begroting uiteen te sit. Dit gee gemeenskappe die geleentheid om hul kommer binne die munisipaliteit uit te spreek en gee dan ook vir die munisipaliteit ’n geleentheid om te sien waar die gemeenskap probleme ervaar en om daardie probleme dan op te los. Die AfriForum-tak in Vryburg het ’n gesonde verhouding met die Naledi-munisipaliteit en beoog om dit so te hou om sodoende te verseker dat die gemeenskap se probleme vinnig opgelos kan word. AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat hulle aandag aan die probleme gee en hul grondwetlike pligte nakom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter: Klik hier vir meer inligting.