|

Forum Tydskrif se winteruitgawe nou beskikbaar en bied nou selfs méér!

Die jongste uitgawe van die Forum Tydskrif is nou op die rak en as jy nie die gedrukte weergawe in die hande kan kry nie, is daar goeie nuus. Dié geliefde Afrikaanse tydskrif – propvol AfriForum- en ander nuus wat jou en jou gemeenskap raak – is nou ook in ’n gerieflike aanlyn blaaiformaat beskikbaar. Jy kan daarom nou die volle ervaring van ’n gedrukte tydskrif enige tyd, enige plek geniet en luilekker deur Forum Tydskrif blaai of individuele artikels op die Forum Tydskrif-platform lees.

Verandering is nóú nodig, sê Kriel

In hierdie uitgawe, met die tema “Verandering is nóú nodig in Suid-Afrika”, stel Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in sy rubriek dit duidelik dat kwessies soos korrupsie, sentralisering van staatsmag en algehele verval ’n ernstige tol eis op die land en sy mense en dat verandering nou dringend nodig is. Hy skets dié harde werklikheid teen die agtergrond van verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA wat sedert die begin van die jaar versuur het en verduidelik waarom AfriForum en die Solidariteit Beweging deur middel van talle plaaslike en internasionale drukmeganismes ’n rigtingverandering probeer bewerkstellig. Kriel plaas ook AfriForum en die Beweging se besoek aan die VSA in perspektief en sit uiteen hoe die land van koers kan én moet verander. Lees dié rubriek hier.

Bergview-skoolhoof maak oop oor heksejag teen hom

In hierdie uitgawe van die Forum Tydskrif maak Jaco Pieterse, hoof van die Bergview College in die Oos-Kaapse dorpie Matatiele, oop oor die heksejag wat teen hom van stapel gestuur is nadat hy valslik daarvan beskuldig is dat hy ’n 7-jarige leerder van dié skool verkrag het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Pieterse in dié opspraakwekkende saak. Ongeag die feit dat daar geen bewyse teen Pieterse ingebring kon word nie en dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hom nooit as ’n verdagte geag het nie, het verskeie politici – insluitend Julius Malema – Pieterse luid vir die beweerde daad veroordeel. Met die hulp van AfriForum se eenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, is daar sedertdien strafregtelike klagtes teen onder andere Malema aanhangig gemaak. Pieterse vertel van sy gesin se ontworteling, hul vrese en hul anker in dié stryd. Lees dié artikel hier.

AfriForum vier Afrikaans van Pretoria tot die Paarl

Afrikaans vier vanjaar sy 100ste jaar as amptelike taal en AfriForum en verskeie ander instellings van die Solidariteit Beweging het dié mylpaal gevier met ’n lettertoer wat in Mei oor ’n afstand van 1 400 km vanaf Pretoria tot in die Paarl aangepak is. Lees in “Pollie (én Afrikaans), ons gaan Paarl toe” oor dié epiese tog waartydens ’n afvaardiging van die Beweging se instellings al kuier-kuier die langpad aangedurf het met nege reuseletters wat die woord “Afrikaans” uitspel. Tydens die reis is by verskeie dorpe aangedoen om aan oud en jonk die geleentheid te gee om in Afrikaans se feesvieringe te deel voordat die letters, betyds vir die afskop van die amptelike vieringe in die Paarl, opgestel kon word in die skadu van die Taalmonument.

Só pak AfriForum die veiligheidskrisis

Die bevordering van gemeenskapsveiligheid vorm ’n kritieke komponent van AfriForum se werk en was ook vanjaar die fokus van die burgerregteorganisasie se streeksberade wat in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad aangebied is. Tydens dié berade is AfriForum se takke en buurtwagte op ’n innoverende en praktiese wyse touwys gemaak oor die bevordering van veiligheid op plaaslike vlak. Lees hier meer oor dié suksesvolle berade.

Vind ook in hierdie uitgawe meer uit oor AfriForum se nuwe spoorsnykursus wat onlangs vir die eerste keer aangebied is en hoe dié kursus, as deel van AfriForum se landelike veiligheidstrategie, ingespan gaan word om ’n nuwe generasie spoorsnyers op die spoor van misdaad te sit.

Lees die volledige tydskrif hier.

Soortgelyke plasings