| |

Coligny-tak skoffel en vee in Voortrekkerstraat

AfriForum se Coligny-tak het gedurende die eerste kwartaal van die jaar voortgegaan met hul volhoubare projek in Voortrekkerstraat. Die tak het die pad gevee, vullis opgetel en weggery, die middelmannetjies geskoffel en skoongemaak in n poging om die dorp netjies te maak. Daar is sowat 90 vragte vol vullis en tuinafval weggery en ’n totaal van 1 050 km afgelê om van hierdie projek ’n sukses te maak.

Die hoofpad word weekliks deur tak-lede gevee en dan word daar ook vullis opgetel en verwyder.

“Daar is ongelooflik baie uitdagings in Coligny, netheid is een daarvan. Dis vir ons almal belangrik om in ’n netjiese omgewing te bly en daarom het ons as inwoners besluit om self in te spring om die hoofpad in Coligny weer mooi te maak. Ons dorp is ons trots en daarom sal ons aanhou om hierdie projek te dryf,” sê Frans Gerber, ondervoorsitter van AfriForum se Coligny-tak.

“Coligny is ’n uitstekende voorbeeld van ’n klein gemeenskap wat ongelooflik baie omgee oor hulle dorp. Hulle wag nie vir die munisipaliteit om hul werk te doen nie en spring self in en doen die werk wat gedoen moet word. Hulle maak nie verskonings nie en gebruik hulle trots om hulle dorp op te knap,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by die tak se aktiwiteite by www.wordlid.co.za. Belangstellendes kan ook vir  Tewie Pieters te skakel by 078 611 2214.

Soortgelyke plasings