|

Centurion 1,6 ton ‘ligter’ ná dié AfriForum-tak vullis verwyder

AfriForum se Centurion-tak het verlede maand gehelp om die laste van dié gemeenskap ietwat te verlig deur etlike vragte vullis weg te ry. Die tak het altesaam 1,6 ton vullis in Centurion bymekaargemaak en van ontslae geraak. Dít is egter nie al wat hierdie tak in Maart vermag het nie.

Die Centurion-tak het benewens sy gereelde vuurwapenopleiding vir sy buurtwaglede, ook voortgegaan met sy maandelikse opruimingsprojekte. Meer as 3,5 hektaar gras is gesny, waarna die tak 181 onwettige advertensieborde op sypaadjies verwyder het.

“Die opruiming- en instandhoudingswerk word elke dag meer, maar AfriForum se Centurion-tak staan nie terug vir enige uitdagings nie. Elke gemeenskapslid se verbintenis tot die burgerregteorganisasie maak dit moontlik vir die Centurion-buurtspan om bietjie vir bietjie die verval om te keer,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se koördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die projekte wat die tak aanpak poog om die inwoners van Centurion se daaglikse lewe te verbeter. Dít kan egter net gehandhaaf word deur die gemeenskap se betrokkenheid by dié AfriForum-tak.

“As die gemeenskap met alle ywer by hierdie soort projekte betrokke raak, sal AfriForum daar wees om hulp en ondersteuning te bied om van elke onderneming ’n sukses te maak. Saam kan ons Centurion ’n vry, veilige en skoon omgewing vir almal maak,” sê Ungerer.   

Sluit by die plaaslike AfriForum-tak aan deur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za te stuur of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings