|

Brakpan-buurtwag stuit kabeldiewe in hul spore

AfriForum se Brakpan-buurtwag het op 5 Junie twee verdagtes aangekeer terwyl hulle na bewering besig was om kragkabels te steel. Hierdie was ’n gesamentlike poging tussen die AfriForum-buurtwag, die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en verskeie plaaslike veiligheidsmaatskappye.

’n Hommeltuigspan het die twee verdagtes uitgewys waar hulle besig was om gate te grawe en kabels te steel. Die verdagtes het aanvanklik probeer vlug, maar danksy goeie kommunikasie en koördinering tussen die buurtwag, SAPD en veiligheidsmaatskappye, is die verdagtes suksesvol in hegtenis geneem.

Verskeie stukke toerusting, insluitend grawe, pikke, metaal- en handsae, asook ’n stuk afgeknipte kabel, is op die toneel gevind.

Dié sukses volg ná die AfriForum-buurtwag ’n operasionele plan in samewerking met die SAPD en veiligheidsmaatskappye opgestel het om die area te beveilig, veral aangesien kabeldiefstal in die Minnebron en Sunair areas in Brakpan die afgelope tyd toegeneem het.

Die sukses van hierdie operasie dui op die belangrikheid van georganiseerde gemeenskapsveiligheid en samewerking van plaaslike veiligheidsrolspelers om misdaad te bekamp.

Kabeldiefstal beskadig infrastruktuur en veroorsaak wydverspreide kragonderbrekings wat hospitale, ondernemings, skole en nooddienste ook raak.

AfriForum se Brakpan-buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak om sodoende die buurtwag te versterk. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za want elke lid wat by die buurtwag aansluit, maak ons sterker.

Soortgelyke plasings