Boorgate nodig vir AfriForum se slimklepnoodwaterpunte in Secunda
AfriForum se Teks-tak is opsoek na inwoners met boorgate wat bereid is om hul gemeenskap by te staan tydens wateronderbrekings. AfriForum wil slimklepnoodwaterpunte oprig wat die hoeveelheid water wat elke gemeenskapslid neem reguleer om toe te sien dat almal tydens wateronderbrekings toegang tot skoon water het.
Die watervoorsiening na dorpe in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit is onvoorspelbaar – water is gereeld af en met tye duur wateronderbrekings lank. AfriForum help reeds dorpe soos Bethal met water tydens ondebrekings en het tot op hede meer as ’n miljoen liter water aan die Bethal-gemeenskap voorsien.
Die organisasie wil nou hierdie inisiatief uitbrei na ander dorpe soos Secunda, Kinross en Evander, maar AfriForum kort inwoners met boorgate wat bereid is om hulle in hierdie doel te help slaag.
Die beskikbare boorgate sal dan toegerus word met ’n pomp, ’n tenk en ’n slimklep – die slimklep sal verseker dat water nie misbruik word of getap word om elders verkoop te word nie.
“AfriForum is bewus van die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar en maak planne wat uitvoerbaar en prakties is, dit is juis hierdie planne wat die gemeenskap deur krisis tye sal dra. Die slimklep gaan water verskaffing in tye van nood bestuurbaar maak en verhoed dat daar misbruik gemaak word van inwoners se goeie gebaar,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
Indien jy bereid is om jou boorgat beskikbaar te stel besoek www.artikels.afriforum.co.za/afriforum-is-op-soek-na-mense-wat-boorgate-het/