|

Bloemfontein-takke herstel Pres. Brand-akker se heining in die Pres. Brand-begraafplaas

AfriForum se Bloemfontein-takke het ingespring om die heining van die Pres. Brand-akker in die Pres. Brand-begraafplaas te herstel nadat panele onlangs gesteel is. Dié panele is vermoedelik deur boosdoeners as skrootmetaal verkoop. Bykomend tot die skade aan die akker se heining, is ook opgemerk dat ’n paneel van die begraafplaas se grense verwyder is, wat toegang aan die boosdoeners verleen het.

AfriForum Bloemfontein se nege takke het sedert Mei 2021 die instandhouding van die Pres. Brand-begraafplaas as deel van sy erfenisbewaringsprojekte oorgeneem om die integriteit van die terrein en die beskerming van kulturele erfenis te verseker. Hierdie terrein word deur die AfriForum Bloemfontein-buurtspan behartig.

“Dit is hartseer dat ons erfenis deur individue gevandaliseer en gesteel word,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein. “Die voorval dui op ’n gebrek aan respek vir ons gemeenskap se nalatenskap. Ons erfenis speel ’n sleutelrol in die geskiedenis en die toekoms wat ons vir ons kinders bou. Ons sal aanhou om hierdie erfenis te beskerm en sal streng optree om die skuldiges aan die pen te laat ry.”

AfriForum moedig die gemeenskap aan om saam te staan en by die organisasie aan te sluit. Deur samewerking kan ons verdere waardevolle projekte in Bloemfontein aanpak en die stad ontwikkel tot ’n vrye, veilige en voorspoedige omgewing vir al sy inwoners.

Soortgelyke plasings