Bergview-skoolhoof lê strafregtelike klagtes teen Mbalula, Malema en Gade oor skending van waardigheid en intimidasie
Jaco Pieterse, hoof van Bergview College, het vandag die eerste stap gedoen om politici aanspreeklik te hou vir die beweerde openbare skending van sy waardigheid deur hom valslik te beskuldig van die verkragting van ’n kind en die aanhitsing van skadelike publieke sentiment en geweld gebaseer op hierdie ongegronde aantygings. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Pieterse en het hom vandag na die Sophiatown- en Boksburg-Noord-polisiestasies vergesel waar klagtes van crimen injuria aanhangig gemaak is teen Fikile Mbalula, ANC sekretaris-generaal, Julius Malema, EFF-leier, en Fundile Gade, LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap. Mbalula en Malema word ook deur klagtes van die skending van die Wet op Kubermisdade en die Wet op Intimidasie in die gesig gestaar.
Kort ná Pieterse sy klagtes ingedien het, het hy gesê: “Hoewel ek verlig is dat die waarheid uitgekom het, is ek vasbeslote om te verseker dat mense verstaan dat daar gevolge is vir onverantwoordelike en valse aantygings wat op sosiale media en ander platforms gemaak word.”
Die saak behels ’n kind wie se ma beweer dat sy in Oktober verlede jaar by Bergview College, in Matatiele in die Oos-Kaap, verkrag is. Pieterse en die skool se opsigter, wat ook deur AfriForum se eenheid verteenwoordig word, is sedert November verlede jaar die teikens van ’n hewige sosialemediaveldtog nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV), weens ’n tekort aan bewyse, geweier het om die saak te vervolg.
Nadat die eenheid die Polisieminister, Senzo Mchunu, in April daarop gewys het dat kriminele klagtes teen hom kan volg, het Mchunu Pieterse om verskoning gevra dat hy hom as ’n verdagte in die saak geïdentifiseer het ondanks die feit dat hy nooit as sodanig geag is nie.
Die NVG het verlede maand bevestig dat dit besluit het om niemand in verband met die vermeende verkragting te vervolg nie, aangesien daar volgens die NVG se woordvoerder “geen bewyse van verkragting of seksuele aanranding” was ná die minderjarige meisie deur medici en forensiese maatskaplike werkers ondersoek is nie.
Pieterse versoek in sy verklaring dat die verkragtingdossier as die eerste bewysstuk tot sy sake gevoeg word aangesien dit dien as bewys van die bestek en omvang van die leuens wat teen hom vertel is. Dit beklemtoon ook die gebrek aan rede vir Mbalula, Malema en Gade se bewerings.
Hy verduidelik dat die valse aantygings ’n impak op sy lewe gehad het. “Die nagevolge van die roekelose en kwaadwillige stellings wat teen my gemaak is, het ’n onherroeplike en verwoestende impak op elke aspek van my lewe gehad. Die trauma en verlies wat ek gely het sal jare neem om te genees, indien ooit.
Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, sê die politici se kommentare het ’n man se waardigheid onbillik geskend deur hom te beskuldig van een van die afskuwelikste misdade. “Pieterse is in die openbaar gebrandmerk as ’n pedofiel, ’n brandmerk wat in die oë van die publiek as die mees onherstelbare en verdoemende misdade geag word. Pieterse se saak is veral ernstig aangesien sy beroep die versorging van kinders behels. Ons verwag van die polisie en die NVG om dringend op te tree om toe te sien dat daar geregtigheid vir Pieterse en sy gesin geskied. Hierdie is nie gekompliseerde sake nie. Terwyl die bewyse aan die polisie gelewer is, is dit steeds op mediawebblaaie en sosialemediaplatforms beskikbaar,” sê Bateman.
Ironies genoeg het beide Malema sowel as Mbalula die howe in die onlangse verlede genader aangesien hulle gevoel het dat hul waardigheid aangetas was. In Malema se geval het ’n ander politikus hom daarvan beskuldig dat hy onwettige bedrywighede met ’n sekere sakeman onderneem het en kokaïne van dwelmhandelaars ontvang het, terwyl Mbalula op sy beurt daarvan beskuldig is dat hy korrup is. Die hof het in Mbalula se geval bevind dat hy en sy familie onderwerp was aan mishandeling weens die vals bewerings op verskeie mediaplatforms en dus werklike letsels opgedoen het. Malema beweer dat die aantyging dat hy ’n misdadiger is het hom verneder gelaat en dat die stellings, benewens die negatiewe lig waarin dit sy familie geplaas het, “onherroeplike skade en ernstige benadeling” veroorsaak het.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hierdie kriminele klagtes is net die begin, aangesien die organisasie ook sy regspan opdrag gegee het om sivielregtelike stappe teen Mbalula te doen. Optrede teen die ander partye wat Pieterse en AfriForum belaster het, moet nog bepaal word. AfriForum se regspan sal aksie neem teen individue wat gepoog het om Pieterse se lewe te verwoes en leuens oor AfriForum te versprei.