|

‘Bedwelmd en verkrag’ – nóg ’n saak wat die polisie versuim om na behore te ondersoek

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Gedurende Vrouemaand, toe wetstoepassingsowerhede in die openbaar hul verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld (GBV) verklaar het, was AfriForum se privaatvervolgingseenheid gedwing om in te gryp by nóg ’n saak waarin ’n vrou na bewering bedwelm en verkrag is en die saak gesluit is sonder om behoorlik ondersoek te word. Die vrou onthou hoe sy ’n drankie van die verdagte aanvaar het en toe ’n ruk later in ’n handdoek in haar eie motor wakker geword het. Die voorval het in Augustus 2022 plaasgevind.

Ten spyte daarvan dat die voorval onmiddellik by die polisie aangemeld is en die nodige mediese bewyse verskaf is, is die saak binne weke gesluit. Die slagoffer het van dié besluit uitgevind toe die verdagte die hof daarvan in kennis gestel het tydens ’n aparte aansoek om ’n beskermingsbevel teen hom te bekom. In ’n vergadering met ’n aanklaer is dit aan haar meegedeel dat die verdagte nie vervolg sal word nie omdat sy nie bewyse het om sy weergawe van die gebeure te weerlê nie.

Die verdagte is ’n prominente en welgestelde beleggingsmakelaar gebaseer in Bryanston. Hierdie feit blyk ook die aanklaer se besluit om nie met die saak voort te gaan nie, te beïnvloed het, aangesien hy aan die slagoffer gesê het dat ’n siviele saak teen hom aanhangig gemaak kan word indien hy voortgaan met die vervolging.

In ’n brief aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sê adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, dat die slagoffer haar behandeling deur die aanklaer as vernederend beskryf het. “Dit is die tweede saak in soveel weke waar die strafregstelsel se onvermoë om kwessies van geslagsgebaseerde geweld te hanteer, waar die oortreder omgang met ’n slagoffer het wat nie in staat is om toestemming te gee nie ten spyte van die omstandigheidsgetuienis voor en ná die voorval, blootgelê word.

“Die klaer is nie net deur die strafregstelsel gefaal nie, maar haar behandeling deur die aanklaer en, tot ’n mate, die ondersoekbeamptes, beklemtoon die onvermoë en/of onwilligheid van die staat om die werklikheid te hanteer dat vroue bedwelm of mishandel word wanneer hulle onder die invloed van verdowingsmiddels is,” sê Nel.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê dit is nóg ’n voorbeeld van die staat se lippediens in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. “Dit is die tweede sodanige saak wat die privaatvervolgingseenheid die afgelope maand hanteer en dit onthul ’n kommerwekkende patroon waarin die polisie ongetwyfeld die weergawe aanvaar wat deur ’n verkragtingsbeskuldigde verskaf word wanneer die slagoffer nie kan onthou wat gebeur het nie. Sulke gevalle noodsaak ’n deeglike ondersoek na die bewyse en behoorlike ondervraging om te verseker dat verkragters wat hul slagoffers bedwelm of voordeel trek uit diegene wat onder die invloed van drank is, vervolg en skuldig bevind word.

“Hierdie saak beklemtoon ook die swak behandeling wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld van die polisie en aanklaers ontvang. Die privaatvervolgingseenheid verwag dat owerhede alle slagoffers van misdaad met waardigheid en deernis sal hanteer en hulle op hoogte sal hou van enige verwikkelinge in hul sake. Die eenheid sal voortgaan om te verseker dat dit gebeur,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings