AfriForumTV bied hope heerlike kykgenot vir die jongspan
AfriForumTV het ’n reuseverskeidenheid programme – alles van aktuele programme tot sport en geestelike programme. Die beste van alles? Dit is gratis én in Afrikaans. Wanneer dit kom by programme vir die jongspan is daar boonop ook meer as genoeg inhoud om hulle te vermaak!

Jabie
Hierdie reeks is daarop gemik om kinders speel-speel aan die leer te kry. Jabie besoek interessante plekke waar kinders hulself in ’n veilige omgewing kan geniet. Elke episode lewer iets nuuts, maar dit is altyd pret. Daar is reeds drie seisoene van hierdie gewilde reeks op AfriForumTV beskikbaar. Episodes is tipies korter as 15 minute – kort genoeg om die kleinspan se aandag te hou, terwyl Jabie met sy manewales laf genoeg is om hul aandag te trek én lekker te laat lag.

Klein helde
’n Afrikanerheld of -heldin is iemand wat iets dapper vir Afrikaners gedoen het en altyd daarvoor onthou sal word. Weet jou kinders wie is Jan van Riebeeck, Wolraad Woltemade of Emily Hobhouse? In hierdie reeks word dié drie helde se stories op ’n kindervriendelike wyse in drie kort episodes (nagenoeg 5 tot 7 minute lank) vertel.

Ouma en Oupa het rooimiere
In hierdie reeks meng Michael soms sy Afrikaans. Ouma en Oupa, wat lief is vir hul moedertaal, leer Michael wat die regte Afrikaanse woord is vir al die Engelse woorde wat hy so graag gebruik. So tussendeur begin Michael verstaan hoe belangrik (en prettig) dit is om sy Afrikaans voluit te praat, sy moedertaal te beskerm en trots daarop te wees.

Alfabetpret
Die A-B-C was nog nooit só lekker nie! In elke episode van Alfabetpret leer die jongspan op ’n vermaaklike wyse ’n splinternuwe letter aan deur saam te sing en oulike karakters te ontmoet. Die Alfabetpret-karakters speel die liedjies op hul kitare en gee kinders die geleentheid om ook saam te sing en te dans – die ideale manier om nuwe dinge in ’n japtrap aan te leer. Alfabetpret is ’n oorspronklike AfriKinders-produksie met animasie deur Wayne Young en lirieke deur Leandie Bräsler.

Kroonland gaan see toe
Oom Jurie die uil, Mila die donkie en Wouter die skaap woon in Kroonland en hulle gaan op ’n avontuur see toe! Hier maak hulle maats met Lizzy die seesterretjie en Chela die rob. Hulle speel, sing en vertel stories wat hierdie vakansie nóg lekkerder maak. Kroonland gaan see toe is ’n oorspronklike AfriKinders-produksie en is geskep deur Katelynn Labonté. Dit leer kinders lewenslesse en stories uit die Bybel, terwyl hulle saamsing aan liedjies wat geskryf is deur Leandie Bräsler.
Volg hierdie skakel om gratis op AfriForumTV in te teken.