AfriForum wen in hof om ligte by Pretoria-skole aan te hou
AfriForum het op 5 Mei ’n belangrike oorwinning behaal in die dringende hof in Pretoria namens verskeie skole in Pretoria en Centurion ná die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gedreig het om dié skole se krag af te sny. Minstens een skool het AfriForum hieroor om hulp genader.
Verskeie ander skole in die metro het soortgelyke kennisgewings ontvang. Agterstallige eiendomsbelastingrekeninge is as rede vir dié dreigement voorgehou. Al hierdie skole sal egter by AfriForum se hofoorwinning baat aangesien die hof bevind het dat geen skool se krag vir agterstallige eiendomsbelasting afgesny mag word nie.
“Hierdie skole se kragrekeninge is almal ten volle betaal en in sommige gevalle selfs vooruitbetaal. Beheerliggame neem verantwoordelikheid vir die betaling van krag- en watertoevoer, maar die owerhede moet egter eiendomsbelasting namens skole betaal en dit is wat skynbaar tans nie by die Tshwane-metro gebeur nie,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.
Volgens inligting wat AfriForum ontvang het, is aanmanings onder meer ook aan Laerskool Wierdapark, Laerskool Rooihuiskraal en Lyttelton Manor High School uitgereik. Dié burgerregteorganisasie het in 2009 ’n soortgelyke saak teen dié Tshwane-metro gewen toe Laerskool Wierdapark se krag afgesny is.
“Ons het by drie skole bevestiging gekry dat hulle kennisgewings van die metro ontvang het, maar daar is vermoedelik meer as 30 ander wat dit ook gekry het. Enige ander skool wat ’n soortgelyke kennisgewing van die Tshwane-metro ontvang het, kan AfriForum kontak om ’n kopie van die uitspraak te bekom waarmee die kennisgewing geantwoord kan word,” sê Bailey.
“Dit is onregverdig dat leerders en personeel se regte tot gehalteonderrig, veiligheid en selfs die voorsiening in hul basiese behoeftes geskend word weens die owerhede se wanadministrasie. By die skole waar daar tans geen krag is nie, kan onderrig nie soos normaalweg plaasvind nie. Stelsels wat veiligheid op die perseel moet beskerm, is buite werking. Voedingskemas wat warm etes aan die mees kwesbare kinders moet voorsien, kan nie voortgaan nie en intussen bederf voedselvoorrade in yskaste ook. Waar skole kragopwekkers het, kan net die mees noodsaaklike dienste gelewer word en, weens die huidige prys van diesel, word dit teen ’n uiters hoë koste gedoen. Selfs hierdie gebrekkige gebruik van elektrisiteit is dus nie volhoubaar nie,” verduidelik Bailey.



