water, kraan
|

AfriForum-toetse wys Parys-water is stééds ongeskik vir menslike gebruik

’n Tweede stel watertoetse wat AfriForum se Parys-tak binne net twee weke in dié Vrystaatse dorp laat doen het, bevestig dat water hier stééds ongeskik is vir menslike gebruik. Dít terwyl die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit én die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DSRTS) reeds vroeër vandeesmaand, na aanleiding van die eerste toetsresultate, oor die ernstige probleme met die gehalte van Parys se water in kennis gestel is.

AfriForum het op 16 Januarie vanjaar die eerste watermonsters vir toetsing geneem nadat talle klagtes oor die watergehalte ontvang is. Die tweede ronde toetse is op 28 Januarie onderneem en die resultate is vandag ontvang. Albei toetse is deur ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen.

Die uitslae van die eerste toetse het AfriForum genoodsaak om ’n dringende skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te rig om hulle oor die haglike toestand van drinkwater op Parys in kennis te stel. Tot op hede is geen antwoord hierop ontvang nie.

Die skrywe en toetsuitslae is daarna ook aan die DSRTS gestuur, maar dié het ook nie op AfriForum se kommunikasie reageer nie.

Intussen wag AfriForum steeds op uitspraak in ’n hofaansoek oor dié krisis. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas wanneer ’n munisipaliteit nie sy pligte nakom nie.

Ten spyte van die feit dat AfriForum verlede jaar ’n interdik bekom het wat bepaal dat toegang tot die waterwerke nie geweier mag word nie, word niemand op die waterwerke toegelaat nie. Munisipale amptenare, wat nie hulle name genoem wil hê nie, het AfriForum egter ingelig dat daar tans geen chemikalieë by die Parys-waterwerke is nie en dat die filters ook buite werking is. Dit dui daarop dat die water wat as drinkbaar aan inwoners gelewer word, in werklikheid net rivierwater is.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, kan dié probleme en tekortkominge by die waterwerke die rede wees waarom AfriForum toegang tot die waterwerke geweier word. “Dit lyk asof daar baie is om weg te steek,” verduidelik sy.

Benewens die swak watergehalte ondervind die waterwerke ook uitdagings met kragvoorsiening en kan die water hier nie na behore gepomp word nie. AfriForum het die munisipaliteit oor die installering van ’n doeltreffende kragopwekker geadviseer, maar dié raad is verontagsaam en daar is op ’n veel kleiner – en derhalwe ondoeltreffende – kragopwekker besluit en geïnstalleer.

“Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het eintlik vir alle praktiese doeleindes ten gronde gegaan. Die oënskynlike onwilligheid van die provinsiale owerhede om in te gryp, is ook teleurstellend en laat die inwoners oor aan hul eie genade,” sê Pretorius.

Pretorius moedig inwoners sterk aan om water voor gebruik te kook.

Volgens Schalk Burger, takvoorsitter van AfriForum se Parys-tak, is dit skokkend dat die water wat vir inwoners as drinkbaar aangebied word, herhaaldelik só ellendig toets. Hy veroordeel ook die munisipaliteit se beperkte kommunikasie oor dié dringende aangeleentheid.

“Wat dit selfs erger maak, is dat baie kundige mense in ons land hierdie probleme sal kan oplos, maar nie toegelaat word om dit te doen nie. Ons is teleurgesteld dat amptenare niks voel vir die einste inwoners wat hulle salarisse betaal nie,” sluit Burger af.

Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapsake, benadruk dat dringende ingryping nou noodsaaklik is. “Hierdie watertoetse toon dat daar weinig verandering plaasgevind het vandat ons die munisipaliteit ingelig het van die uiters swak kwaliteit van die water. Daar moet nou dringend ingegryp word om hierdie krisis te beredder en die lewering van skoon drinkwater aan die gemeenskap te verseker.”

Soortgelyke plasings