|

AfriForum teken protes aan teen voorgestelde regulasies om privaat sekuriteit van wapens te stroop

Verteenwoordigers van AfriForum het vandag ’n brief, waarin dié burgerregteorganisasie sy teenkanting teen voorgestelde regulasies wat die privaat veiligheidsektor inderwaarheid sal ontwapen, by die kantoor van Senzu Mchunu, minister van Polisie, ingehandig. ’n Stel waterpistole is ook aan ’n verteenwoordiger van die minister se kantoor oorhandig met die voorstel dat sy eie lyfwagte dit kan gebruik.

Opspraakwekkende voorgestelde veranderings aan regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf (Psira) is op 28 Maart in die Staatskoerant gepubliseer wat, indien dit geïmplementeer word, verrykende implikasies vir privaat veiligheidsmaatskappye sal hê.

Verskeie van die voorgestelde regulasies is volgens AfriForum veral kommerwekkend. Daar word onder meer voorgestel dat sekuriteitsbeamptes verbied word om wapens in openbare ruimtes soos winkelsentrums, skole of kerke te dra. Voorts kan ’n sekuriteitsmaatskappy verbied word om vuurwapens aan hul beamptes uit te reik as daar bloot ’n ondersoek teen sodanige maatskappy van stapel gestuur word. Die voorgestelde regulasies maak ook melding van die aanhou van ’n “redelike” hoeveelheid ammunisie, maar AfriForum meen daar moet meer duidelikheid hieroor gegee word. ’n Algehele verbod op die gebruik van minder dodelike toestelle, soos skokstokke, waterkanonne en rubberkoeëls, skep ook kommer asook ’n klousule wat voorstel dat sekuriteitsmaatskappye al hul vuurwapens met opsporingstoestelle moet toerus wat met huidige tegnologie heeltemal onprakties is.

“Dis is verregaande dat die regering op privaat sekuriteit moet staatmaak om geboue – en in sekere gevalle selfs polisiestasies – te bewaak, terwyl regulasies wat die einste industrie magteloos sal laat, terselfdertyd deurgedruk wil word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.  

AfriForum het ’n brief om protes aan te teken teen voorgestelde regulasies wat privaat sekuriteit sal ontwapen by die minister van polisie se kantoor ingehandig.

AfriForum het intussen verlede week ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerig om te bepaal hoeveel polisiestasies van privaat sekuriteitsdienste gebruik maak vir die beskerming van hul persele. Luidens mediaberigte is daar etlike voorbeelde van gevalle waar privaat sekuriteitsmaatskappye, weens ’n tekort aan polisielede en ander hulpbronne, gekontrakteer word om selfs die mees basiese take (soos toegangsbeheer) te verrig.

Broodryk sê die voorgestelde regulasies in ’n land waar geweldsmisdaad die botoon voer, is soos om met vuur te speel. “Die SAPD is ooreis en het ernstige hulpbrontekorte. Privaat sekuriteit speel ’n kritieke rol in die beskerming van gemeenskappe. Om hierdie sektor onder die dekmantel van regulasies te ontwapen, is nie net irrasioneel nie – dit is gevaarlik,” sê hy.

AfriForum het vandag met die oorhandiging van die brief aan Mchunu se kantoor ’n veldtog van stapel gestuur om die voorgestelde regulasies teen te staan. Die spertyd vir kommentaar op dié regulasies is 25 April 2025. Om dié veldtog te ondersteun volg hierdie skakel.

Soortgelyke plasings