AfriForum seëvier in Ngwathe-hofstryd: Hof beveel provinsiale ingryping én ontbinding van munisipale raad
AfriForum het vandag ’n deurslaggewende oorwinning behaal in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein toe uitspraak hier in die guns van AfriForum en in die belang van die inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gelewer is. Regter J.P. Daffue het bevind dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie en het daarom as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.
Daffue het in sy uitspraak onder meer benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die Grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het ook daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel.
Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaat se premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak nou binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Die hof het daarbenewens beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.
Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek, bestempel die uitspraak as ’n reuseoorwinning vir inwoners wat reeds jare lank die slagoffers is van swak dienslewering weens ongekende verval en onbevoegdheid in dié munisipaliteit. Inwoners van Ngwathe gaan luidens AfriForum se hofstukke onder meer gebuk onder ernstige watertekorte en -besoedeling, ’n sanitasiekrisis met rou riool wat vrylik in die strate vloei en vervalle infrastruktuur, terwyl bestuurs- en finansiële probleme en wanbestuur ten bedrae van miljoene rande ook dié munisipaliteit kenmerk.
“AfriForum het namens inwoners ingegryp toe die plaaslike én provinsiale regering versuim het om hul grondwetlike verpligtinge na te kom. Hierdie uitspraak bring nie net geregtigheid nie, maar gee ook die regsgronde vir daadwerklike optrede. Die regering het nie meer ’n keuse nie – hulle móét ingryp,” sê Pretorius. “AfriForum sal hierdie proses nougeset monitor. Die inwoners van Ngwathe verdien ’n leefbare omgewing, nie ’n politieke graf nie.”
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, is Parysenaars verheug oor die uitspraak. “Dit was ’n jare lange stryd om tot hier te kom, maar nou is die oorwinning soet. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van Save Ngwathe en die dorp se inwoners wat ons altyd gehelp het met ons ondersoeke. AfriForum is dalk nie elke dag op die voorgrond in Parys nie, maar agter die skerms het ons werklik baie hard gewerk om by hierdie dag uit te kom.”
Corné Cronjé, hoof van Strukture by AfriForum, sê AfriForum is baie dankbaar vir die uitspraak. “Hierdie oorwinning is in die belang van die mense van Parys en die omliggende dorpe in die Ngwathe-munisipaliteit wat etlike jare al nie van die mees basiese dienste, soos skoon water en elektrisiteit, voorsien is nie. Ons glo en hoop dat hierdie herstelplan wat die provinsiale regering nou moet instel, ’n daadwerklike verskil teweeg sal bring en dat bevoegde kontrakteurs nou aangestel sal word,” sê Cronjé.
Pretorius het ter afsluiting die munisipaliteit se inwoners en die organisasie Save Ngwathe bedank wat die stryd saam met AfriForum aangepak en enduit geveg het en boonop aan AfriForum waardevolle inligting in die takeling van dié saak voorsien het.
AfriForum versoek die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk aan die heropbou van verantwoordbare plaaslike regering. Die hofuitspraak is ’n mylpaal in AfriForum se breër veldtog teen plaaslike regeringsverval in die land.
Burger moedig inwoners aan om by AfriForum aan te sluit en toe te sien dat dié burgerregteorganisasie van krag tot krag kan gaan in Parys. Om by AfriForum se Parys-tak aan te sluit, kontak Burger (082 653 4281) vir meer inligting.