|

AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag vind gesteelde goedere terug

AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag het Woensdag in die vroeë oggendure ’n beduidende rol gespeel in die veilige terugbesorging van gesteelde goedere aan die regmatige eienaar. Die voorval het omstreeks 00:13 in Renéstraat in Akasia plaasgevind.

Dit volg nadat AfriForum-buurtwaglede tydens ’n roetinepatrollie ’n verdagte met onder meer ’n kragopwekker, hamers en moersleutels opgemerk het. Die lede het stilgehou om die verdagte te ondervra, waarna hy onmiddellik die goedere laat val en die bosse ingevlug het. Ná deeglike ondersoek is vasgestel daar was ’n inbraak by ’n nabygeleë perseel in Renéstraat, wat tans in aanbou is. Die eienaar van die perseel is dadelik in kennis gestel en die gesteelde goedere is aan hom oorhandig nadat hy dit uitgeken het.

“Hierdie voorval is net weereens ’n bewys dat sigbaarheidspatrollies en gemeenskapsamewerking ’n kragtige wapen teen misdaad is.  Ons is daagliks op voetsoolvlak, sigbaar en paraat – en ons sal nie terugstaan vir misdaad nie,” sê Ruan Janse van Vuuren, leier van AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag.

AfriForum moedig inwoners aan om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwag en saam te werk om misdaad in gemeenskappe hok te slaan.

Om deel te raak van AfriForum se Noord van die berg-tak en -buurtwag, kontak Janse van Vuuren by  065 868 0445.

Soortgelyke plasings