|

AfriForum saam met ander in die hof oor publikasie van matriekuitslae

Uitspraak is vandag in die Pretoriase Hooggeregshof voorbehou in die saak tussen die Inligtingsreguleerder (IR) en die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en ander partye, wat AfriForum en Maroela Media insluit, waarin die IR die DBO probeer verhoed om matriekuitslae te publiseer. Die saak is vandag en gister aangehoor.

Die publikasie van matriekuitslae het in 2022 die eerste keer ter sprake gekom toe die DBO dit wou verbied, maar AfriForum en ander betrokke partye is in die hof gelyk gegee dat dit in die belang van die publiek is dat uitslae wel gepubliseer word. Daar is ook bevind dat die gebruik van eksamennommers in die publikasie van uitslae ’n voldoende stap is om leerders se privaatheid te beskerm.

Die DBO het hulle by die hof se uitspraak geskaar en uitslae is in 2022, 2023 en 2024 soos gewoonlik met die gebruik van eksamennommers gepubliseer, maar aan die einde van verlede jaar het die IR die DBO probeer verhoed om die 2024-matriekuitslae bekend te maak. Die IR se aansoek om ’n interdik daarteen te verkry, het egter op 8 Januarie vanjaar misluk toe regter Ronèl Tolmay in die Pretoriase Hooggeregshof uitspraak ten gunste van die publikasie daarvan gelewer het. ’n Bevel is uitgereik dat die uitslae wel gepubliseer moet word.

Die IR aan die ander kant meen steeds leerders se privaatheid word geskend indien hul uitslae in ’n koerant of op ’n ander platform gepubliseer word. Voorts meen die IR dat die Wet op die Beskerming van Persoonlik Inligting (Popia) oortree sal word indien matriekuitslae wel gepubliseer word.

Adv. Marius Oosthuizen SC, die DBO se regsverteenwoordiger, het gister in die hof aangevoer dat leerders se privaatheid genoegsaam met die gebruik van ’n eksamennommer beskerm word. Hy het ook bevraagteken of die IR by magte is om die hof oor aspekte van die Popia-wet te nader. Oosthuizen het voorts genoem dat die vryheid van spraak van die media ten alle koste in ’n demokratiese land beskerm moet word.

Vanuit die regbank is daar gevra of koerante en ander platforms nie net matriekuitslae wil publiseer vir hul eie finansiële gewin nie, maar adv. Quintus Pelser SC, wat AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies in die saak verteenwoordig, het genoem dat Maroela Media gratis nuus aan die publiek beskikbaar maak en inderwaarheid geld spandeer het om hierdie reg te verdedig. Pelser het ook verder genoem dat die IR nie ’n enkele leerder gevra het of hulle voel of hul privaatheid met die publikasie van hul uitslae geskend word nie.

“Vir AfriForum is die saak op twee vlakke van belang; dit is vir sommige matrikulante belangrik om so gou as moontlik en so maklik as moontlik hul uitslae in die hande te kry. Ons voel dat hul privaatheid voldoende beskerm word wanneer hul eksamennommers gebruik word om dit te publiseer. Die saak raak ook aan die Popia-wet en daar was nog nie veel litigasie oor dié wet nie. Hierdie saak gaan baie bydra tot wanneer ’n saak in die publieke belang is en wanneer iemand se privaatheid geskend word,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake.

Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik