|

AfriForum-oudit: Toestand van vullisterreine in Noordwes effens verswak

Die toestand van vullisterreine in Noordwes het oor die afgelope jaar effens verswak in vergelyking met 2023, siende dat slegs vier van die 23 vullisterreine wat in die provinsie geoudit is aan die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen het. Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. In Noordwes het slegs 17% van die provinsie se vullisterreine aan hierdie vereistes voldoen, terwyl 22% van vullisterreine in 2023 aan die vereistes voldoen het.

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie. Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine met mekaar in Noordwes:

Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê dit is uit hierdie oudit duidelik dat die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n uiterse swak toestand is. “’n Algemene probleem wat AfriForum se Noordwes-takke tydens die oudit opgemerk het, is die gebrek aan finansiële ondersteuning vanaf munisipaliteite om die vullisterreine in stand te hou, hoewel daar daarvoor begroot word. Tog word die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep vir hierdie soort wanbestuur nie.”

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het tydens die oudit opgemerk dat die vullisterrein in Potchefstroom drasties agteruitgegaan het nadat ’n bekwame kontrakteur nie weer deur die plaaslike munisipaliteit aangestel is nie. Dié terrein het verlede jaar ’n 98%-nakoming behaal, maar vanjaar het dit byna halveer en op 52% te staan gekom. Die vullisterrein in Klerksdorp (64%-nakoming) is nie noodwendig in die swakste toestand nie, maar eerder uiters gevaarlik om te besoek. “Dit is onrusbarend dat die terreine so agteruitgaan. Die munisipaliteite sal hulle prioriteite in orde moet kry want die situasie speel op ’n ramp af,” sê Pretorius.

JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sê hy is veral bekommerd oor die omgewingsagteruitgang en gesondheidsrisiko’s wat voortspruit uit die swak bestuur van vullisterreine. “As vullisterreine nie behoorlik bestuur word nie, kan dit teelaarde vir siektes word en boonop die omgewing en selfs grondwater besoedel. Behoorlike instandhouding van hierdie terreine is dus ononderhandelbaar. Dit is munisipaliteite se verantwoordelikheid om die omgewing en die welstand van gemeenskappe te beskerm,” benadruk Nel.

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen Noordwes se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings