AfriForum lê strafregtelike klagtes teen Mangaung se munisipale bestuurder
AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, gelê weens sy versuim om vullisverwyderingsdienste in dié metro doeltreffend te bestuur en toe te sien dat hierdie diens aan die vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die burgerregteorganisasie het ook ’n speelgoedvragmotor aan More oorhandig om te toon dat hy nie opgewasse is om die metro se vullisverwyderingsdienste te bestuur nie en dalk beter sal vaar met ’n speelding.
Vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein het die afgelope paar jaar sodanig verval dat verskeie huishoudings hulle na privaat diensverskaffers moes wend om hul vullis te laat verwyder. AfriForum het vroeër vanjaar sy vullisverwyderingsdiens uitgebrei met die aanskaffing van ’n vullisverwyderingsvragmotor. Die burgerregteorganisasie het ook in Februarie vanjaar ’n aansoek namens 700 Bloemfonteiners by die metro ingedien om aan te dring op die verwydering van die vullisverwyderingsheffing op hul munisipale rekeninge aangesien hulle van privaat diensverskaffers se diens gebruik maak en geen nut vir die gebrekkige munisipale diens het nie.

More se prestasiebeoordeling vir die 2024/2025-boekjaar voer aan dat hy al sy interne prestasiemaatstawwe bereik het, ondanks die feit dat die metro feitlik bankrot is en nie eens in staat is om basiese dienste soos vullisverwydering te lewer nie.
“Die munisipale bestuurder is van mening dat hy al sy teikens bereik het om van dié stad ’n sukses te maak, maar in werklikheid gaan die metro steeds gebuk onder ernstige diensleweringsprobleme. Die metro se verwoestende inploffing onder More se bestuur dien as bewys waarom basiese dienslewering aan organisasies soos AfriForum oorhandig moet word, wat sal verseker dat dienste soos vullisverwydering volhoubaar gelewer kan word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek.
Die klagte teen More is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis 59 van 2008 gelê nadat daar onder meer in AfriForum se jongste vullisterreinoudit uitgelig is dat nie een van Bloemfontein se vullisterreine aan die voorgeskrewe vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.
AfriForum se vrywilligers het die Bloemfontein-Noord en -Suid vullisterreine geoudit. Die terreine het ’n powere nakomingspunt van onderskeidelik 18% en 30% behaal (’n nakomingspunt van 80% word as ’n slaagsyfer geag). Alhoewel nie al die land se metro’s die oudit geslaag het nie, lyk hul punte oor die algemeen aansienlik beter as dié van die Manguang-vullisterreine. Platkop-terrein in Alberton (Ekurhuleni-metro) het byvoorbeeld 100% behaal, terwyl Hatherley in Pretoria (Tshwane-metro) 68%, Amanzimtoti (eThekwini-metro) 98% en Gordonsbaai (Kaapstad-metro) 100% gekry het.
“Die inwoners van Mangaung verdien meer as leë beloftes. Hulle verdien aanspreeklikheid, wetlike nakoming en betroubare dienslewering. AfriForum sal voortgaan om druk op die metro te plaas om sy grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners na te kom en hom aanspreeklik te hou wanneer hy nie die paal haal nie,” sê Grobbelaar.