AfriForum eis verduideliking van SAUK oor verdwene Afrikaanse TV-nuusbulletin
In ’n skrywe aan die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK, eis AfriForum ’n verduideliking oor waarom die Afrikaanse TV-nuusbulletin nie Saterdagaand (5 April 2025) soos gebruiklik om 18:15 uitgesaai is nie. Geen verklaring is nog hiervoor aangebied nie en kykers is ontsteld oor die minagting van die Afrikaanse gehoor se toegang tot nuus langs hierdie weg.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het AfriForum reeds in Augustus 2024 by die SAUK-bestuur oor die verskuiwing van Afrikaanse nuusbulletins en die vervanging daarvan deur sport of ander geleenthede gekla. Daar is toe onderneem dat die saak ondersoek sal word en ontwrigtings so ver as moontlik beperk sal word.
“Toegang tot belangrike inligting in ’n eie amptelike taal van die land is die belangrikste bestaansrede vir die SAUK. Verder steier die instelling die afgelope jare ook voortdurend onder begrotingstekorte en daarom is dit onverstaanbaar dat Afrikaanse nuus, wat volgens ons inligting ’n sleutelbron van advertensie-inkomste is, aan skommelings en weglatings sonder verduideliking uitgelewer word,” sê sy.
“Afrikaanse verbruikers is lojaal en kapitaalkragtig. Sowat ’n derde van die mark is Afrikaans. Dit maak dit nog meer onverstaanbaar dat die SAUK kies om hierdie mark te vervreem. Die SAUK kies spreekwoordelik om ’n gans te slag wat goue eiers lê! Ons is uiters bekommerd oor die rol wat die openbare uitsaaier speel. Nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook die sprekers van ander, kleiner taalgroepe in die land is lankal ontevrede oor nuusbulletins wat op ongerieflike tye uitgesaai word,” voeg Bailey by.
AfriForum wag op ’n verduideliking oor Saterdag se gebeure en moniteer intussen die situasie om seker te maak dat verdere onderbrekings nie plaasvind nie.