Water
|

AfriForum eis antwoorde oor watervermorsing en -verbruik in Gautengse munisipaliteite

AfriForum het formele aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by elk van Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite (Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane) ingedien om feite oor dié metro’s se hoë waterverbruik te verkry. Dié aansoeke volg in reaksie op waterbeperkings wat in November verlede jaar in al drie metro’s ingestel is. Die beperkings is daarop gemik om inwoners te dwing om waterverbruik te beperk. AfriForum voer egter aan dat hoë waterverbruik in die provinsie nie noodwendig voor die deur van inwoners gelê kan word nie en dat uitermatige hoë verbruik waarskynlik spruit uit vermorsing weens swak munisipale instandhouding van die waternetwerke.

Die metro’s se jongste vlakke van waterverbruik het die hoeveelheid water wat deur Rand Water voorsien kan word met sowat 14% oorskry. 

Die burgerregteorganisasie vertrou dat inligting wat verlede week in die PAIA-aansoeke aangevra is, lig sal werp op die ware omvang van verbruik en vermorsing in die metro’s en derhalwe die moontlikhede vir besparings – en aanspreeklikheid – sal bepaal.

Langdurige wateronderbrekings kom ook sedert die instelling van waterbeperkings in al drie metro’s voor, terwyl Rand Water voortdurend waarsku dat die metro’s se hoë waterverbruik hul stelsels onder druk plaas. Die metro’s plaas die skuld hiervoor op Rand Water se onvoldoende watervoorsiening én hul inwoners se hoë waterverbruik.

AfriForum is van mening dat duidelike kommunikasie, gebaseer op feite, nou in die beste belang van Gauteng se inwoners sal wees, maar tans ontbreek. Beperkte inligting oor die metro’s se waterverbruik word wel aan die publiek bekendgemaak, soos byvoorbeeld op die Platform for a Water Secure Gauteng, ’n forum wat in September 2024 deur die Departement van Water en Sanitasie, Rand Water en Gauteng se munisipaliteite ontstaan het om groter deursigtigheid oor Gauteng se waterverbruik te bevorder. Die forum het die volgende bekendgemaak:

  • Sedert Julie 2024 was daar weinig verandering in die metro’s se waterverbruik en elkeen verbruik steeds meer water as wat Rand Water aan hulle kan voorsien.
  • Terselfdertyd staan die volume drinkwater waarop geen inkomste verdien word nie, oftewel nie-inkomste water (non-revenue water), in verhouding tot die totale volume wat in die stelsel ingevoer word reëlmatig in al drie metro’s bo die teiken van 25%. Aan die einde van September 2024 was Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni se nie-inkomste water, onderskeidelik 46%, 36% en 30%. Aan die einde van Februarie 2025 was dit 48%, 33% en 30%.
  • Dieselfde geld ten opsigte van fisiese waterverliese as gevolg van lekkasies en diefstal, wat veronderstel is om minder as 15% van die totale volume water wat in die stelsel ingevoer word, te wees. Aan die einde van September 2024 was Johannesburg,  Tshwane en Ekurhuleni se fisiese waterverliese onderskeidelik 35%, 33% en 28%. Aan die einde van Februarie 2025 was dit 37%, 33% en 28%.
  • Laastens, buiten dat die metro’s se totale aantal waterlekkasies gerapporteer word, is daar geen duidelikheid oor die aantal lekkasies wat reggemaak word of hoe vinnig dit gedoen word nie.  

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, is die prentjie wat hierdeur geskets word dat waterbeperkings nog geen effek op die metro’s se waterverbruik gehad het nie, omdat waterverliese die primêre oorsaak van die krisis is en nie inwoners se waterverbruik nie. Daarom sal dit onregverdig wees om Gauteng se inwoners met waterbeperkings te straf indien die grondoorsake van die metro’s se hoë waterverbruik nie opgelos word nie. Dit blyk egter makliker vir die metro’s te wees om die skuld vir hul hoë waterverbruik op inwoners te pak en daardeur die aandag van die werklike probleme af te lei, naamlik om daadwerklik en met dringendheid die sistemiese gebreke soos waterlekkasies, agterstallige instandhouding, onwettige aansluitings en ’n jarelange gebrek aan investering in infrastruktuur op te los.

“Inwoners se reg op toegang tot water word ondermyn deur munisipaliteite wat nie hul watervoorsieningstelses behoorlik bestuur nie. Hoewel ons heelhartig saamstem dat alle inwoners ’n verantwoordelikheid het om water spaarsamig te gebruik, is waterbeperkings ’n onvolhoubare oplossing as die groter sistemiese gebreke onopgelos bly. So nie, kan Gauteng se inwoners binnekort selfs groter watertekorte in die gesig staar,” sluit De Vaal af.

Die metro’s het tot 14 April om inligting aan AfriForum te voorsien. Indien die inligting wat AfriForum ontvang bevestig dat die grondoorsake van Gauteng se waterkrisis nie doeltreffend opgelos word nie, sal die organisasie regstappe teen die betrokke metro’s oorweeg om hulle te dwing om die herstel van waterlekkasies en verwydering van onwettige aansluitings te prioritiseer.

Soortgelyke plasings