|

AfriForum dien klag in oor wetteloosheid en gevare by Keimoes Hotel

Die geraas, wetteloosheid en ernstige veiligheidsrisiko’s wat gedurende naweke by die Keimoes Hotel plaasvind is nou op ’n punt waar dringende ingryping ter wille van die gemeenskap nodig is. AfriForum se Keimoes-tak, ondernemings en gemeenskapslede in die omgewing van die Keimoes Hotel in Hoofstraat het nou ’n formele klag en versoek om dringende ingryping aan die !Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit en ander betrokke owerhede gerig. 

Die klagtes sluit onder meer die volgende in:

  • luidrugtige musiek, geskree en wangedrag tot in die vroeë oggendure;
  • openbare alkoholgebruik op sypaadjies en in die straat;
  • roekelose en nalatige bestuur in die omgewing van die hotel;
  • onwettige parkering wat toegang na huise en ondernemings versper;
  • gebreekte bottels en vullis in die straat;
  • oop vure wat op die sypaadjies gemaak word om by te braai;
  • openbare dronkenskap, gevegte en intimidasie van inwoners;
  • onwettige kosstalletjies.

“Dit is duidelik dat verskeie wetgewing oortree word. Wetgewing wat veronderstel is om die inwoners van Keimoes te beskerm teen dit wat nou plaasvind,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Hierdie misdrywe hou ernstige risiko’s vir gemeenskapslede se veiligheid in en verhoog die moontlikheid vir onnodige beserings en selfs sterftes. Voorts beïnvloed dit ook die waarde van eiendomme in die omgewing en dit rig skade aan die plaaslike ekonomie aan.

AfriForum en die ander klaers eis dat die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) streng moet optree teen openbare dronkenskap, geraas en roekelose bestuur. Die Noord-Kaapse Drankraad behoort ook die hotel se dranklisensie en nakomingsvoorwaardes te hersien. Daar moet bykomende vullisdromme in die omgewing van die hotel geplaas word, die onwettige kosstalletjies moet verwyder word en oop vure op die sypaadjies moet verbied word.

Daar word ook versoek dat gesamentlike vergadering tussen die SAPD, munisipaliteit en die Noord-Kaapse Drankraad om saam oplossings vir hierdie probleme te bekom.

AfriForum sal self die Noord-Kaapse Drankraad, die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, die Departement van Gesondheid, en die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake van dié probleme in kennis stel sou die munisipaliteit hul verantwoordelikhede versaak.

“Die situasie is reeds ’n krisis en inwoners asook ondernemings se reg op ’n veilige, gesonde en ordelike omgewing word daagliks geskend. Ons gaan nie toelaat dat wetteloosheid in die gemeenskap oorheers nie,” sê Strauss.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf