|

Aandag alle Gautengse ouers: Maak nou gereed vir graad 1- en graad 8-aansoeke

Aansoeke vir aanstaande jaar se graad 1- en graad 8-leerders vir Gautengse openbare skole open Donderdag (24 Julie) en dié proses is iets waarna baie ouers en voogde opsien. Ouers en voogde word egter aangemoedig om hul kinders so gou as moontlik te registreer om die kanse van plasing by ’n voorkeurskool te verhoog.

Hoewel verskeie plasingskriteria, insluitend huisadres en onderrigtaal, ook oorweeg word, geld die regsbeginsel van “eerste in plek, eerste in reg” steeds. Dit kom daarop neer dat ouers en voogde wat hul kinders vroegtydig registreer, ’n beter kans het om plek vir hul kind by hul voorkeurskool te kry.

Aansoeke moet volledig wees én betyds wees. Daarom word ouers en voogde aangemoedig om solank die volgende dokumente gereed te kry:

  • Bewys van huisadres (bv. munisipale rekening, nie ouer as drie maande nie)
  • Gesertifiseerde ID’s of immigrasiedokumente van ouers of voogde
  • Mees onlangse graad 7-skoolrapport (vir graad 8-aansoekers)
  • Gesertifiseerde geboortesertifikaat van die leerder
  • Gesertifiseerde kliniekkaart of immunisasieverslag (vir graad 1-aansoekers)

Carien Bloem, AfriForum se hoof van Onderwysprojekte, sê ook ouers moenie skroom om by hul voorkeurskool aan te klop om raad rakende die aansoekproses nie. “Toegewysde administrateurs is by skole aangestel om ouers en voogde by te staan en kan selfs namens ouers en voogde die aanlyn registrasieproses hanteer, mits hulle die voornemende leerder se volledige pakkie met al die dokumentasie het. Indien daar enige onsekerhede is, kan ouers ook enige tyd na AfriForum uitreik deur ’n e-pos te stuur aan onderwys@afriforum.co.za.”

Carien Bloem, AfriForum se hoof van Onderwysprojekte

Volgens Bloem hou die omstrede Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (BELA) wat in Desember 2024 onderteken is, bepaalde risiko’s in vir die toepassing van Afrikaanse skole se onderrigtaal- en toelatingsbeleide. Kragtens die riglyne wat die minister van Basiese Onderwys egter onlangs gepubliseer het, kan geen skool verplig word om sy taalbeleid aan te pas indien die skool voldoende aansoeke ontvang het en vol is nie. Hierdie beskerming is slegs van toepassing indien die skool oor goedgekeurde taal- en toelatingsbeleide sowel as ’n vasgestelde kapasiteitsbepaling beskik wat strook met wetgewing.

Die Solidariteit Beweging het reeds aangekondig dat hulle graag skole in dié verband wil bystaan. “Politieke druk op Afrikaanse skole om te verengels en weg te doen met enkelmediumonderrig neem daagliks toe. Die enigste wyse waarop hierdie druk afgeweer kan word, is deur die spoedige optrede van voornemende ouers en korrekte beleidsformulering deur Afrikaanse skole,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Die aansoekproses vir graad 1- en graad 8-plasings kan aanlyn voltooi word. Matome Chiloane, Gautengse LUR vir Onderwys, benadruk wel dat die volledige aansoek – wat die registrasie van ’n profiel sowel as die indiening van alle vereisde dokumente insluit – binne sewe dae afgehandel moet word, anders sal die aansoek as onvolledig beskou word. Die aanlyn aansoekportaal sal tot 29 Augustus oop wees vir aansoeke.

Openbare skole kan ook besoek word vanwaar die aanlyn aansoek ingedien kan word. Daar kan vir toelating by ’n maksimum van vyf skole aansoek gedoen word.

Volgens Chiloane sal terugvoer oor plasings vanaf 16 Oktober gedoen word. Ouers of voogde sal egter reeds 24 uur ná hul aansoek ingedien is, ’n SMS as bevestiging van die voltooide aansoek ontvang.

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) benadruk dat ouers en voogde die bevestigings-SMS veilig moet bewaar. Die sentrum raai ook ouers en voogde aan om by slegs een of hoogstens twee voorkeurskole aansoek te doen. Dit sal skole help om die werklike aanvraag van plasings te bepaal. Die SOS moedig ook ouers en voogde aan om skermgrepe te neem van elke stap in die aansoekproses en alle gesertifiseerde dokumente binne sewe dae by die betrokke skool in te dien.

Aansoeke open Donderdag (24 Julie) om 08:00 wanneer die webwerf vir die aansoeke aktief sal wees.

Soortgelyke plasings