|

AfriForum en gemeenskap pak slaggate in Potchefstroom

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het op 17 Julie saam met die gemeenskap, ondernemings en raadslede die slaggate rondom Snowflake en die Potchefstroom Central School gevul en herstel.

AfriForum se kontrakteur het 625kg teer gebruik om twee reuseslaggate, wat 6.34m2 beslaan het, te vul.  Die gemeenskap het self ook 600kg ingesamel en hiermee die kleiner slaggate herstel.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sal hierdie aksie ’n reuseverskil maak om die verkeersvloei rondom Snowflake en die skool te verbeter.

Die tak het ook gedurende Julie vier studente as deel van AfriForum Jeug se mentorskapprogram touwys gemaak oor tak-aktiwiteite. Dié studente het in die tuin by ’n erfenisterrein gewerskaf, ’n praatjie bygewoon en die aand saam met die plaaslike AfriForum-buurtwag patrollie gery.

“Dit is baie lekker dat die inwoners van Potchefstroom, wat al vuisvoos is van al die slaggate, besef dat ons net ’n verskil kan maak wanneer ons self inspring. Dit is goed dat ons almal kan hande vat om die werk gedoen te kry. Dit was ook ’n voorreg om die studente hier te kon hê om hulle te laat besef dat ons self moet sorg vir dit wat vir ons belangrik is,” sê Pretorius.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing skoon en veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings