|

Diplomatieke krisis verdiep: Nuutste onthullings rakende SA se spesiale gesant beklemtoon weer regering se swak hantering van die krisis – AfriForum

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Gerugte dat die Amerikaanse regering Mcebisi Jonas, Suid-Afrika se spesiale gesant in die VSA, se visum geweier en getuigskrifte verwerp het, herbevestig volgens die burgerregteorganisasie AfriForum net weer die ANC-geleide regering se powere hantering van die diplomatieke krisis met die VSA. Daar is vandag onder meer ook onthul dat president Cyril Ramaphosa na bewering bewus was daarvan dat Jonas maande lank reeds nie welkom was in Washington nie, dat die Trump-administrasie die Suid-Afrikaanse regering by verskeie geleenthede uitdruklik daarvan in kennis gestel het en dat hulle daarop aangedring het dat ’n alternatiewe gesant aangewys moet word.

Kort ná Ramaphosa Jonas in April as spesiale gesant in die VSA aangestel het, het Jonas se vorige opruiende opmerkings – waarin hy die Amerikaanse president Donald Trump ’n “rassis” en ’n “narsis” genoem het – weer aan die lig gekom. Dit het ernstige vrae oor Jonas se geskiktheid vir sy rol laat ontstaan.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, bevestig die jongste onthullings dat Suid-Afrika, tydens een van die land se ernstigste diplomatieke krisisse sedert 1994, reeds meer as drie maande lank sonder diplomatieke verteenwoordiging in Washington is. “Dit verklaar ook waarom daar tot nou toe absoluut geen vordering gemaak is in die sluiting van ’n kritieke handelsooreenkoms met die VSA nie. Intussen sal daar binne sowat twee weke verwoestende sanksies in die vorm van wederkerende tariewe op uitvoere na die VSA op die land afgedwing word, nadat die 90 dae wat gegun is om dit te heronderhandel, verspil is,” gaan Van Zyl voort.

“Dat Ramaphosa sy tevredenheid met dié vlak van diplomatieke mislukking uitspreek, is verstommend, tensy die sabotasie van die land se verhouding met die VSA die ANC se doelwit is,” sluit Van Zyl af.

AfriForum eis intussen dat die Suid-Afrikaanse regering die saak deursigtig hanteer en dadelik bekend maak wat Jonas die afgelope 90 dae in sy rol as spesiale gesant gedoen het.

Soortgelyke plasings