Gemeenskapslede maak graf van Marie Koopmans-De Wet skoon
AfriForum se Durbanville- en Bellville-tak het Woensdag, 9 Julie, saam met die FAK en Helpende Hand gespan om die graf van Maria Koopmans-De Wet, beter bekend as Marie, skoon te maak. Hierdie aksie het dié organisasies se toewyding tot erfenisbewaring opnuut bevestig.
Daar was 15 persone wat hierdie aksie aangepak het. Saam het hierdie groep bome uitgekap, droë tuinvullis verwyder en Marie se graf skoongemaak.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, het AfriForum hulle hulpbronne beskikbaar gestel om die FAK met hierdie aksie te help. “Die begraafplaas beskik ongelukkig nie oor die fondse om die nodige opruimings- en verwyderingswerk te doen nie. Dit was dus vir ons ’n voorreg om te kom help om Marie Koopmans-De Wet se graf te kom netjies maak.”
Marie Koopmans-De Wet (1834-1906) was ’n kulturele leier en kampvegter vir Afrikanerregte, asook beskermvrou van die kunste.
Marie het ’n belangrike rol gespeel tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur onder meer petisies en vrouevergaderings te organiseer en massas noodlenigingsgoedere plaaslik en oorsee in te samel vir verspreiding onder die aangehoudenes in die Britse konsentrasiekampe. Sy het haar huis in Strandstraat, Kaapstad, beskikbaar gemaak vir die ontvangs en versending van dié goedere.
Ná die dood van Marie en haar suster, is die huis in 1914 tot ’n museum verklaar. Dit is ingerig as huismuseum om erkenning aan haar en haar familie te gee. Daar is tans egter groot onsekerheid oor die toekomstige aanwending daarvan aangesien Iziko Museums, die amptelike instelling verantwoordelik daarvoor, dit ontruim het en met herbeplanning vir die aanwending daarvan besig is.
“Erfenisbewaring help ons om die nagedagtenis van ons voorouers te eer en ook om vir die jonger geslagte ’n gevoel van identiteit en verbondenheid te gee. As ons ons geskiedenis bewaar, bou ons aan ’n gemeenskap wat trots is op hulle erfenis en sterk kan staan in hul identiteit,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die Suidstreek.
“Hierdie gemeenskapsprojek is nie net ’n huldeblyk aan ’n merkwaardige vrou nie, maar ook ’n oproep tot aksie om ons erfenis te bewaar en te beskerm. In ’n tyd waar soveel geskiedkundige plekke en figure in die vergetelheid raak, herinner sulke inisiatiewe ons aan die waarde van ons geskiedenis. Dit is deur sulke daadwerklike betrokkenheid dat gemeenskappe nie net hul verlede eer nie, maar ook die grondslag lê vir ’n trotse en bewuste toekoms,” voeg Müller by.
“Wanneer ons eer betoon aan die nalatenskap van groot figure soos Marie Koopmans-De Wet, gee ons ook erkenning aan die waardes van kultuur en die gemeenskapsverantwoordelikheid waarop ons vandag nog voortbou. Hierdie tipe samewerking tussen instellings van die Solidariteit Beweging wys ook die krag van gemeenskappe wat saam span om hul erfenis te beskerm,” sluit Ferreira af.
AfriForum bedank graag die lede van die Durbanville- en Bellville-tak asook elke vrywilliger wat deelgeneem het aan hierdie gemeenskapsprojek.