|

Trump-tariewe: Ramaphosa en ANC-geleide regering het Suid-Afrika in die steek gelaat

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

AfriForum hou president Cyril Ramaphosa en sy ANC-geleide regering direk verantwoordelik vir die 30%-tarief wat die Amerikaanse president Donald Trump gister op invoere uit Suid-Afrika aangekondig het. Die organisasie hou vol dat Ramaphosa en sy regering valslik die VSA se kwellinge probeer afmaak het as die gevolg van misinfomasie, terwyl hulle eerder die VSA se bekommernisse moes erken en daadwerklik opgelos het. Die land pluk nou volgens AfriForum die wrang vrugte van die regering se versuim op dit te doen.

Die tarief tree op 1 Augustus in werking. Dit was vir 90 dae opgeskort om toe te laat vir onderhandeling. Ramaphosa en die ANC-geleide regering het egter die 90 dae-vergunning vermors en geen vordering gemaak om die diplomatieke krisis met die Trump-administrasie te beredder nie. AfriForum beskou diegene wat die ANC se valse narratief help bevorder het en die uitwys van kritieke kwessies in die VSA en Suid-Afrika se verhoudinge afgemaak het as die verspreiding van waninligting, as aandadig aan dié krisis.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het AfriForum die regering herhaaldelik gewys op maniere waarop die kwessies wat die kern van die krisis vorm, opgelos kan word. Die burgerregteorganisasie het selfs hulp aangebied om werkbare oplossings te vind. “In plaas van samewerking, het die regering ongegronde aantygings teen AfriForum gemaak en aangevoer dat die organisasie skuldig is aan die verspreiding van waninligting. Daar is selfs ’n desperate ondersoek na hoogverraad teen AfriForum van stapel gestuur – dit alles vir die ‘misdaad’ van wys op die werklike kwessies,” gaan Van Zyl voort. 

“AfriForum is sedert die begin van hierdie diplomatieke krisis daartoe verbind om oplossings te vind vir die kwessies wat aan die kern van die probleem staan. Om die probleme te takel, sal egter van die ANC-geleide regering verg om nederig te werk te gaan en om dadelik die benadering van ontkenning wat tot dusver gevolg is, te laat vaar. Die stryd is nog nie verlore nie en AfriForum bly steeds verbind daartoe om ’n werkbare oplossing te help vind en sal aanhou om sy bystand te bied aan diegene wat bereid is om die land se belange bo partybelange te stel,” sluit Van Zyl af.

Die Suid-Afrikaanse regering is, soos ander regerings wêreldwyd, drie maande grasie gegee om die kwessies waarop die Trump-administrasie in elke geval gewys het, op te los. Hoewel talle ander lande spoedig met onderhandelinge begin het, het die ANC en sy vennote in die regering van nasionale eenheid ’n kop-in-die-sand-benadering gevolg en die probleme bloot geïgnoreer met die hoop dat dit vanself uit die weg geruim sal word. Die tyd het nou uitgeloop en die implikasies van hul versuim om die saak te beredder, sal die land duur te staan kom.

Nie alle lande het na afloop van die grasietyd onverrigtersake weggestap nie. Lande soos China, Viëtnam en die Verenigde Koninkryk het byvoorbeeld deur middel van doeltreffende onderhandelinge en hul bereidwilligheid om die probleme waarop die Trump-administrasie gewys het, uit die weg te ruim, daarin geslaag om gunstige handelsooreenkomste te sluit.

Onkundigheid is geen verskoning nie. Die Trump-administrasie het onlangs hul voorwaardes en eise vir die redding van diplomatieke verhoudinge met die Suid-Afrikaanse regering aan ’n Afrikaner-afvaardiging aan die Withuis herhaal. Hulle het eerstens beklemtoon dat plaasaanvalle en -moorde as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word; dat die ANC die “Kill the Boer”-dreunsang duidelik, onvoorwaardelik en onomwonde in die openbaar moet veroordeel; en dat geen onteiening van grond sonder billike en markverwante vergoeding gedoen sal word nie. Laastens moet Amerikaanse instellings kwytgestel word van alle diskriminerende rasgebaseerde wetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

’n Verantwoordelik regering sou die 90 dae gebruik het om ’n oplossing te vind vir al die kwessies wat die VSA as probleme uitgewys het in sy verhoudinge met die land. Nie een van hierdie probleme is onoorkombaar nie. Inteendeel, die oplossings wat uiteengesit is, is redelik billik, verstandig en maklik implementeerbaar deur enige regering wat nie ’n ekstremistiese ideologie najaag nie.

Soortgelyke plasings