AfriForum ruim kwaaddoeners se gemors in Langenhovenpark op
AfriForum se buurt- en vullisverwyderingspanne het op 3 Julie ’n gedeelte van Langenhovenpark skoongemaak nadat kwaaddoeners vullissakke oopgeskeur en ’n groot gemors agtergelaat het. Vullis het op die sypaadjies en in die paaie rondgestrooi gelê.
Die span het vinnig gereageer nadat ’n video van die vuil strate op ’n plaaslike WhatsApp-groep versprei is. Daar is besluit om in te spring om te verhoed dat die woonbuurt soos ’n vullishoop lyk.
Hierdie voorval is ’n direkte gevolg van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se onvermoë om vullisverwydering op skedule te hou, wat daartoe lei dat strate en woonbuurte in ’n haglike toestand gelaat word.
“Ons doen ’n ernstige beroep op die stad se wetstoepassers om meer aktief betrokke te raak in die gemeenskappe en kwaaddoeners uit woonbuurte weg te wys. Hierdie tipe voorvalle ondermyn nie net die gemeenskap se moraal nie, maar dit skep ook ’n risiko vir die toename van misdaad in die omgewing,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder van Bloemfontein.
AfriForum het intussen ook (op 3 Julie) ’n formele brief aan die Mangaung-metro gerig en antwoorde geëis oor waarom algemene dienslewering in Bloemfontein só drasties agteruitgaan. Die gemeenskap verdien beter en AfriForum sal aanhou druk toepas totdat inwoners die dienslewering ontvang waarvoor hulle betaal.
AfriForum moedig inwoners aan om betrokke te raak by hul plaaslike AfriForum-strukture en ook om gebruik te maak van AfriForum se vullisverwyderingsdiens. Deur saam te staan, kan ons nie net ons woonbuurte veiliger maak nie, maar ook die netheid en lewenskwaliteit van ons gemeenskappe verbeter.
Die organisasie doen ’n beroep op inwoners om nie hul vullissakke oornag langs die pad te laat staan nie – dit voorkom dat diere of kwaaddoeners die sakke oopskeur. Inwoners word ook versoek om enige verdagte optrede dadelik aan hul buurtwag of plaaslike veiligheidsdienste aan te meld.

