Bloemfontein-buurtwagte neem standpunt in teen misdaad tydens landswye massapatrollie
Die AfriForum-buurtwagte van oor die hele Bloemfontein het 3 138 km in 48 voertuie afgelê tydens die organisasie se landswye massapatrollie wat op 20 en 21 Junie plaasgevind het. Hierdie massapatrollie het ten doel om sigbaarheid te verhoog en gemeenskapsveiligheid te prioritiseer.
Verskeie ander plaaslike veiligheidsrolspelers het die patrollie saam met 73 AfriForum-buurtwaglede aangepak met ondersteuning van die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), mediese nooddienste en plaaslike sekuriteitsmaatskappye. Die samewerking van hierdie verskillende rolspelers het dié massapatrollie die toonbeeld van gemeenskapskrag en burgerlike betrokkenheid gemaak.
Dié aksie is spesiaal opgedra aan die slagoffers van plaasaanvalle en plaasmoorde. Ter nagedagtenis het ’n konvooi voertuie in stilte deur die strate van Bloemfontein beweeg.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein het dié gebaar ’n duidelike boodskap gestuur. “Ons het dit duidelik gemaak dat ons nie net sal toekyk of sal stilbly nie. Ons sal self verantwoordelikheid neem vir ons veiligheid.”
Tydens die patrollie is daar op verskeie noodsituasies gereageer, insluitend motorongelukke, trauma-insidente en mediese noodgevalle. Spanne het ook paraatheidsopleiding ontvang deur noodreaksieprosedures in te oefen.
Daar is voorts ook opgetree om te verseker dat verdagte persone en voertuie nie ’n risiko vir die gemeenskap inhou nie. Areas wat verlate is en moontlike wegkruipplek vir booswigte kan bied is ook tydens hierdie aksie deursoek. Hierdie geteikende optrede vorm deel van AfriForum se strategiese benadering om proaktief misdaad te bekamp en kwesbare gebiede te beveilig.
AfriForum spreek sy opregte dank en waardering uit teenoor elke rolspeler wat hierdie inisiatief moontlik gemaak het.
“Ons wil graag ons onbaatsugtige vrywillige buurtwagpatrolleerders, wie se toewyding en opoffering die ruggraat van hierdie operasie vorm bedank vir hulle bydra. Ons bedank ook graag die SAPD, nooddienste, sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede wat deelgeneem het. Aksies soos hierdie is meer as net patrollies – dit is voorwaar ’n besondere voorbeeld van hoe gemeenskappe saam staan teen misdaad, veral misdade wat plase teiken,” sê Groenewald.