|

’n AfriForum-honde-eenheid, hommeltuie en ’n reis deur die verlede – dít alles en nog vele meer in AfriForum maak só (Episode 4)

Die vierde episode van AfriForum maak só is vandag bekendgestel en in dié episode word die kollig op die bewaring van Afrikaner-erfenis en gemeenskapsveiligheid geplaas. Die program se joernaliste, Marthinus Koekemoer en Carina Bester, reis hierdie keer na Pretoria en Brits om meer uit te vind oor AfriForum se betrokkenheid by erfenisbewaring en veiligheid.

AfriForum maak só … met veiligheid op Brits

Bester besoek AfriForum se Brits-tak waar sy meer uitvind hoe dié tak gemeenskapsveiligheid aanpak. Die tak het ’n paar jaar gelede sy eie buurtwag op die been gebring en takel misdaad hier op ’n innoverende manier. Dié buurtwag beskik nou al oor ’n hommeltuig, ’n opgeleide vlieënier en selfs ’n honde-eenheid, terwyl verskeie lede van dié buurtwag al AfriForum se gespesialiseerde protosspanopleiding ondergaan het. Die Brits-gemeenskap se selfdoenbenadering tot veiligheid werp vrugte af. Bester het by dié dinamiese tak en buurtwag gaan aanklop.

AfriForum maak só … met erfenisbewaring in Pretoria

Verskeie geboue, monumente en terreine in Pretoria vertel die verhaal van die Afrikaner se kleurvolle verlede. Hierdie tasbare kontak met die verlede vereis egter deurlopende bewaring en danksy organisasies soos AfriForum en individue met ’n passie vir die geskiedenis word moeite gedoen om dié bakens vir die volgende geslag te bewaar. In hierdie episode van AfriForum maak só lê Koekemoer besoek af by twee belangrike bakens in die hartjie van Pretoria. Die gerekende historikus en vooraanstaande kenner van die Anglo-Boereoorlog, prof. Fransjohan Pretorius, kom saam op hierdie reis na die verlede en doen saam met Koekemoer aan by die Heldeakker en Melrose-huis. Hulle vind uit waarom erfenisbewaring só belangrik is en gesels met Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, oor AfriForum en die bewaring van die Afrikaner se geskiedenis.

Hierdie episode kan op AfriForum se AfriForumTV en YouTube gekyk word.

Soortgelyke plasings