|

AfriForum neem beveiliging van Moot-infrastruktuur in eie hande

Metro nie gepla oor gemeenskappe in donker sit

AfriForum is tans besig om kameras te installeer by substasies in hoërisiko-areas in die Moot wat deurloop onder kabeldiefstal en sabotasie. Dit volg ná verskeie pogings om met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in gesprek te tree oor die beveiliging van infrastruktuur. Die organisasie meen egter dat hulle nie hande gevou kan sit en wag vir die metro se goedkeuring nie en het daarom reeds met hierdie beveiligingsinisiatief begin.

Ondanks AfriForum se pogings om verder in gesprek te tree met die Tshwane-metro en selfs hul kennis, vaardighede en hulpbronne gratis aan te bied blyk dit dat die metro wil aanhou om skouers op te trek oor drukkende probleme. Die organisasie het onder meer aangebied om belangrike substasies, elektriese verdeelborde en kraginfrastruktuur sonder enige koste aan die metro toe te rus met slim moniteringskameras asook om gewapende reaksie-eenhede en aktiewe buurtwagpatrollies aan hulle beskikbaar te stel.

Gedurende vorige gesprekke met rolspelers van die Tshwane-metro het dit geblyk dat daar gewilligheid is om saam met gemeenskapsorganisasies soos AfriForum te werk om veral toe te sien dat gemeenskappe beveilig word. Hiervan het daar egter dadels gekom en selfs daar waar reeds toestemming gegee is vir die organisasie om die area te beveilig word hulle nou toegang tot die perseel geweier.

“Ons wil die gemeenskap se belange voorop stel en tans gaan die gemeenskap gebuk onder kragonderbrekings weens kabeldiefstal en sabotasie wat voorkombaar is deur proaktief op te tree. Dit wil egter voorkom of die metro nie gepla is oor die feit dat hulle gebrek aan optrede die gemeenskap en hulself te na kom nie,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Die beskerming van substasies teen sabotasie en kabeldiefstal het ’n invloed op die hele stad se funksionaliteit. Die sabotering van ’n enkele substasie kan duisende huishoudings en ondernemings in die donker laat – dit sluit hospitale, tehuise en waterinfrastruktuur in. Die gemeenskap se veiligheid is ook in gedrang wanneer daar nie elektrisiteit is nie aangesien dit ’n gulde geleentheid vir misdadigers skep om misdrywe te pleeg.

Die proaktiewe beskerming van substasies sal ook die Tshwane-metro se finansiële las verlig aangesien dit nie nodig sal wees om herstelwerk weens sabotasie te verrig nie. Uit die metro se onwilligheid om met die burgerlike samelewing in gesprek te tree blyk dit egter dat hulle nie gepla is oor die impak op hul eie begroting of die welstand van die gemeenskap in wie se diens hulle staan nie.

AfriForum is van plan om ook in ander dele van die stad kameras te installeer om substasies te beveilig, dit sal op ’n latere stadium geskied. Die organisasie meen dat ingrypende optrede nodig is om die algehele ineenstorting van infrastruktuur te verhoed en dat die metro tans nie ’n vinger roer om op te tree nie.  

“Ons bly vasbeslote om toe te tree waar die owerhede in gebreke bly. Dit gaan nie net oor die belange van AfriForum-lede nie, maar die gedeelde belang van elke inwoner van die Tshwane-metro wat basiese dienste soos elektrisiteit nodig het om hul daaglikse take te verrig en by te dra tot ’n funksionerende samelewing,” voeg Hemmens by.

“Die metro kan nie aanhou uitstel nie, hulle moet nou begin om saam met gemeenskapsorganisasies te werk aan ’n veilige, volhoubare toekoms. AfriForum sal egter aanhou om gemeenskappe se hande sterk te maak om self te kan doen as die metro nie sy gemeenskappe wil dien nie,” sluit Hemmens af.

Klik hier om betrokke te raak by AfriForum se Pretoria-takke.

Soortgelyke plasings