Diefstal van “rooi goud” dwing Volksrust op sy knieë – AfriForum eis antwoorde
AfriForum se Volksrust-tak het ’n skrywe aan die Pixley Ka Seme Plaaslike Munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op dié dorp gerig waarin ’n daadwerklike aksieplan vir die bekamping van die diefstal van sogenaamde “rooi goud” – oftewel koper – in dié dorp geëis word. Dié versoek volg op ’n hernieude vlaag kabeldiefstalle wat die dorp se inwoners teister en die dorp telkens in die duister hul.
Volgens AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, Hennie Bekker, is dit nie net die voorkoms van dié diefstal wat die gemeenskap woedend laat nie, maar ook die gerugte dat verdagtes wat wel in verband met die misdaad aangekeer word oënskynlik vervolging vryspring. “Inwoners het al in sommige gevalle – ure nadat vermeende kabeldiewe aangekeer is – die einste verdagtes weer op straat gesien. Daar hang ernstige vrae oor die munisipaliteit en die polisie se hantering sowel as die polisie se ondersoek van dié misdaad en daarom is hulle nou antwoorde verskuldig aan die gemeenskap wat onder dié voortdurende misdaad ly,” beklemtoon Bekker.
Johan Kennard, voorsitter van AfriForum se Volksrust-tak, beklemtoon op sy beurt dat gerugte ook die ronde doen dat die munisipaliteit nie gevalle van kabeldiefstal by die SAPD aanmeld nie. “Ons wil uitvind of die proses wel deeglik deurgevoer word in Volksrust. Kabeldiefstal veroorsaak miljoene rande se skade in die dorp.”
Die Volksrust-tak se ontevredenheid sluit aan by ’n groter nasionale probleem rakende die omvangryke diefstal van koperkabels. Luidens ’n antwoord op ’n parlementêre vraag waarop die minister van Polisie in Oktober 2023 terugvoer gegee het, is ’n totaal van nagenoeg 20 000 kabeldiefstalsake vanaf 2019/2020 tot die eerste kwartaal van 2023/2024 aangemeld. Statistiek van Transnet, wat naas Eskom die swaarste onder die voorkoms van kabeldiefstal gebuk gaan, is 120 km se Transnet-koperkabels in 2017 gesteel – dié syfer het in 2021 tot meer as 724 km vir die jaar toegeneem. Voorts het navorsing wat in opdrag van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging onderneem is, bevind dat die impak op die ekonomie weens die diefstal van koperkabels jaarliks meer as R45 miljard beloop.
Ondersteun AfriForum se stryd teen kabeldiefstal in Volksrust
AfriForum het pas ’n petisie van stapel gestuur om inwoners wat keelvol is vir kragonderbrekings weens die vlaag kabeldiefstalle in Volksrust, se stem te laat hoor. Ondersteun dié petisie hier: https://www.artikels.afriforum.co.za/hou-die-krag-aan-in-volksrust/.
Sluit vandag nog aan by AfriForum. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.