|

31 Mei, Afrikaans 100 en Die Stem

Verskeie belangrike gebeure in die geskiedenis van ons land word aan die datum 31 Mei gekoppel. Daar is byvoorbeeld die ondertekening van die Vrede van Vereeniging waarmee die Anglo-Boereoorlog in 1902 beëindig is, Uniewording in 1910 en Republiekwording in 1961.

In die geskiedenis van Afrikaans was daar ook belangrike ontwikkelinge wat aan dié datum gekoppel kan word.

Vanjaar vier ons Afrikaans se eeufees as amptelike taal, aangesien dit op 8 Mei 1925 deur die parlement tot amptelike taal saam met Engels aanvaar is. Die saadjie vir hierdie gebeurtenis is eintlik al in 1910 gesaai. President M.T. Steyn en generaal J.B.M. Hertzog het seker gemaak dat die grondwet van die Unie wat op 31 Mei 1910 ’n werklikheid geword het, beide “Hollands” en Engels gelykwaardig as amptelike tale erken het.

Met “Hollands” is nie eksklusief Nederlands veronderstel nie, maar juis ook die unieke taal Afrikaans wat toe reeds sterk begin ontwikkel het en teen 1925 sodanig geformaliseer was dat dit as volwaardige amptelike taal geïmplementeer kon word – ’n feit wat mense soos Steyn en Hertzog beslis reeds in 1910 kon voorsien het en waarheen ’n groot aantal taalpioniers onder meer met publikasies, standaardisering en bewusmaking gewerk het.

Nog ’n datum om te onthou, is 31 Mei 1928. Op hierdie dag is die Suid-Afrikaanse vlag (wat nou helaas deur die ANC en ander politici tot omstrede simbool gereduseer word) die eerste keer amptelik gehys en is Die Stem van Suid-Afrika soos ons dit vandag ken, die eerste keer amptelik in die openbaar gesing.

Die ontstaan van die lirieke van Die Stem is heel interessant. In 1918 het C.J. Langenhoven begin om feitlik voltyds te skryf. Op Maandagaand, 30 Mei 1918, voel hy só ontsteld oor die gebrek aan Afrikaanse moedertaalonderrig, dat hy een aand gaan sit en drie verse van ’n gedig met die titel Die Stem van Suid-Afrika skryf. Sover vasgestel kon word, was die woorde daarvan die volgende:

Deur die blouw van onse hemel, in die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,

Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa –

Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.

Koor:

Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe ons sal sterwe – ons vir jou Suid-Afrika.

In die merg van ons gebeente, in ons bloed en in ons vlees,

In die diepte van ons siel en in die hoogte van ons gees,

In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf –

Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trouw ons af.

Koor:

Vaderland! ons sal onthou met eer en trouw ons naam te dra:

Ons s’n joue-Afrikaners, kinders van Suid-Afrika.

In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,

In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rouw,

Bij die klink van huwliksklokkies, bij die kluitklap op die kis –

Streel jou stem ons nooit virniet nie, weet jy waar jou kinders is.

Koor:

Op jou roep seg ons nooit nee nie, seg ons altijd altijd ja –

Om te lewe om te sterwe – ja, ons kom Suid-Afrika!

Nadat hy dit geskryf het, het hy self ook die gedig getoonset. Daarna het hy dit aan sy vertroueling, Sarah Goldblatt, gestuur met ’n briefie wat lui:

Hierbij stuur ik jou ’n gesangetjie wat ik geskrijf het met musiek wat ik daarbij self ‘gekomponeer’ het – harmonie en al. Jij sal seker denk dit beteken maar bliksems min – maar ons moet maar sukkel tot ons eendag ’n volkslied het.

Hy wou dit laat publiseer en het die hoop uitgespreek dat iemand beter musiek daarvoor sou komponeer. Hy was egter nie bereid om die kopiereg daarvan af te staan nie. Na gesprekke met die destydse redakteur van De Burger (soos dit toe bekendgestaan het), verskyn die gedig in die koerant onder die skuilnaam KRN. Daarna het HAUM ook die gedig en musiek gepubliseer.

Die publiek was dadelik gaande oor die gedig, maar oor Langenhoven se komposisie was hulle minder opgewonde. Een persoon het ook geskryf dat Afrikaners godsdienstig is en dat KRN darem iets meer geesteliks ook by die lirieke moes voeg. Langenhoven het dadelik aan die werk gespring en die vierde vers bygeskryf – daardie geliefde vers wat ons vandag nog so goed ken en dikwels sing.

Langenhoven het begin soek na iemand wat ’n beter melodie kon skep daarvoor en verskeie bekende komponiste van die tyd het hulle hand gewaag daaraan. Hulle het die Vlaming, E.L. Hullebroeck, asook Victor Potgieter, Stephen Eyssen en Gideon Fagan ingesluit. Sommige was mooi melodieë en is selfs in die openbaar gesing, maar geen een hiervan was sodanig dat die publiek dit kon onthou en maklik kon saamsing nie.

In Mei 1919 het ds. M.L. de Villiers ’n lied vir Langenhoven gespeel, maar laasgenoemde het nie daarvan gehou nie. De Villiers het nie moed opgegee nie en aanhou skaaf daaraan tot Langenhoven tevrede was.

Op 31 Mei 1928 met die eerste amptelike vlaghysing van die nuwe landsvlag, het De Villiers ’n koor bestaande uit vyfhonderd Kaapstadse skoolkinders wat deur ’n blaasorkes begelei is, gedirigeer en is die note en woorde van Die Stem die eerste keer amptelik gehoor.

Dit het lank geneem om amptelik die land se volkslied te word. In 1952 is dit die eerste keer formeel in Engels vertaal en eers in 1957 is dit as amptelike volkslied van die Unie erken.

Vandag is dit steeds Langenhoven se mees bekende werk. Volgens letterkundiges is dit ook van veel beter gehalte as die lirieke van die meeste lande se volksliedere.

Met sy eerste skepping van Die Stem in 1918, op ’n koue wintersaand by die eetkamertafel in sy huis op Oudtshoorn, het Langenhoven reeds uiting gegee aan die ideaal om Afrikaans as amptelike landstaal te laat erken – ’n droom van vele wat in 1925 uiteindelik waar geword het.

Soortgelyke plasings