|

AfriForum staan sterk teen misdaad met massapatrollie in Brackenfell

AfriForum se Brackenfell-buurtwag, wat onder die Kaapstad-Noord-tak sorteer, het op Vrydag, 11 April saam met verskeie ander strukture deelgeneem aan die organisasie se nasionale massapatrollie. Hierdie inisiatief het gepoog om gemeenskapsveiligheid te bevorder deur verhoogde sigbaarheid en samewerking tussen burgerlike en formele veiligheidstrukture aan te moedig.

In Brackenfell self het 19 AfriForum-buurtwaglede saam met 38 lede van ander instansies – insluitend GPF, SAPD, buurtwagte en sekuriteitsfirmas – deelgeneem. Daar is 36 voertuie ingespan wat saam sowat 943 kilometer afgelê het van die aand tot in die vroeë oggendure die volgende dag. Hierdie massapatrollie het ’n sterk, sigbare teenwoordigheid in die strate geskep en ’n duidelike boodskap uitgestuur: misdaad het geen plek in ons gemeenskappe nie.

“Hierdie patrollie het gewys wat moontlik is wanneer gemeenskapslede, buurtwagte en wetstoepassers saam werk om ’n verskil te maak,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus. “Dit gaan nie net oor teenwoordigheid nie – dit gaan oor gemeenskapsvertroue, optrede en volhoubare vennootskappe.”

“Hierdie aksie wys weereens dat wanneer gemeenskappe en veiligheidstrukture hande vat, ons nie net misdaad kan bekamp nie, maar ook sterker bande vir die toekoms kan bou,” sê Yollanda Fritz, operasionele leier van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak. “Ons sien uit daarna om voort te bou op hierdie sukses en voort te gaan om saam met al ons rolspelers te werk ter wille van ’n veiliger Brackenfell.”

Die Kaapstad-Noord-tak se Brackenfell-buurtwag is trots om deel van hierdie landswye inisiatief te wees en sien uit daarna om op dié momentum voort te bou. Die tak bedank elke vrywilliger, ondersteuner en vennoot wat bygedra het tot die sukses van hierdie aksie.

Raak betrokke by AfriForum se tak strukture in Kaapstad-Noord om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te help maak. Besoek gerus die volgende skakel: sluit-aan.afriforum.co.za

Soortgelyke plasings