AfriForum se stryd teen rasgebaseerde waterregte duur voort
Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het vandag appèl aangeteken teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se afkeuring van ’n aansoek vir die oordrag van ’n swart boer se waterregte vir besproeiing na ’n wit boer.
Die DWS voer aan dat waterregte wat voorheen aan ’n swart boer toegeken was, nie na ’n wit boer oorgedra kan word nie, omdat dit teenstrydig met die departement se transformasiedoelwitte sal wees. Deur die vereistes van die Nasionale Waterwet 36 van 1998 sowel as uitsprake van beide die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof te ignoreer, stel die DWS dit onomwonde dat ras die bepalende faktor in die toekenning van waterregte is.
Dit blyk dat die DWS ander wesenlike faktore wat hy verplig was om tydens die waterlisensieaansoek te beoordeel, bloot verontagsaam het. Dít sluit byvoorbeeld in:
- of die water doeltreffend en tot voordeel van die openbare belang gebruik sal word,
- of die watergebruik sosio-ekonomiese ontwikkeling sal bevorder,
- of die watergebruik belyn is met die toepaslike opvangsgebied se bestuursplan,
- die impak wat die watergebruik op omliggende watergebruikers sal hê,
- die impak wat die watergebruik op die kwaliteit van die betrokke waterhulpbron sal hê en
- die beleggings wat reeds deur die watergebruiker gemaak is ten einde die water aan te wend.
Geen van hierdie faktore is belangriker as enige van die ander nie en derhalwe is ras nie ’n alleenstaande faktor nie. Deur ras tot die bepalende faktor te verhef, word daar gevolglik outomaties teen wit boere gediskrimineer.
“Gesien teen die agtergrond van die DWS se onlangse pogings om transformasiedoelwitte op die watersektor af te dwing, is dié verwikkeling ’n blatante miskenning van die oppergesag van die reg,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Die ironie van die DWS se paternalistiese houding jeens transformasie is dat ’n swart boer wat op grond van kommersiële oorwegings afstand wil doen van sy waterregte, verhoed word om sy vrye wil uit te oefen,” voeg De Vaal by.
Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van die familieboerenetwerk Saai, sê dat die eng toepassing van die DWS se rasbeleid eenvoudig nie bevorderlik vir die betekenisvolle regstelling van historiese rassediskriminasie in die landbousektor is nie. “Die indiensneming van tientalle permanente én seisoenale swart werkers in ’n landelike gebied wat gebuk gaan onder hoë werkloosheid, asook die ontwikkeling van die plaaslike ekonomie en ondernemings in die waardeketting, bly ook in die slag.”
Hierdie is die nuutste geval in AfriForum se voortslepende stryd teen die DWS se vroeëre omstrede pogings om onwettige transformasievereistes op die watersektor af te dwing. In die laaste twee jaar het dié organisasies onder meer:
- Met sukses druk op die DWS toegepas om ’n irrasionele en onregverdige besluit om die tydelike oordrag van ’n watergebruikslisensie op grond van ras af te keur, om te keer.
- ’n Dringende versoek aan die minister van DWS gerig om ’n onmiddellike regstelling te maak aan die DWS se aanlyn platform vir watergebruikslisensieaansoeke, waarop aansoeke slegs verwerk sou word indien die aansoeker aan die vereistes van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) voldoen.
- Ernstige kommer uitgespreek oor die konsepwysigingswetsontwerp op die Nasionale Waterwet waardeur onder meer beoog word om watergebruikslisensies aan uitdruklike transformasievereistes te onderwerp.
- Sterk kapsie gemaak teen voorgestelde regulasies om watergebruiklisensies onderworpe te maak aan raskwotas (die DWS het die voorgestelde regulasies ter elfder ure teruggetrek).
- Sterk kapsie gemaak teen voorgestelde regulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes wat tot gevolg sou hê dat ontspanningswatergebruikers se gevestigde regte onteien sou word (die DWS het die voorgestelde regulasies ter elfder ure teruggetrek).
AfriForum sal aanhou veg teen enige vorm van diskriminasie in die toekenning van waterregte en sal voortgaan om die regte van alle watergebruikers te beskerm. Daarom moedig dié organisasie die publiek aan om enige vorm van diskriminasie in die toekenning van waterregte hier aan te meld.